Twee digters, Willem S. van der Merwe en Carina van der Walt, het hul bande met die Breytenbach-sentrum versterk.
Willem woon en werk deesdae tussen Kaapstad en Hong Kong en Carina woon van 2007 af in Tilburg in Nederland, waar sy as kunsjoernalis werk.
Willem, wat ’n videoproduksie-onderneming bestuur, is in Suid-Afrika om sy tweede digbundel, Nuwe Vrese, wat deur Naledi gepubliseer is, bekend te stel. Hy sal ook op 13 en 14 September by die Breytenbach-sentrum se Tuin van Digters-fees in Wellington optree.
Carina het haar debuut as digter in 2013 in Nuwe Stemme 5 gemaak en dit in 2015 in Nederland met die digbundel Amalgaam opgevolg. Dit is ’n tweetalige bundel (Afrikaans-Nederlands) wat deur Uitgeverij IJzer in Utrecht gepubliseer is.
Carina kuier in Suid-Afrika en het spesiaal ’n kopie van Noord & Zuid, Tijdschrift van de Orde van den Prince van die Vlaams-Nederlands Genootschap voor Taal en Kultuur, vir die Breytenbach-sentrum se argief saamgebring. Sy het ’n artikel in die tydskrif geskryf oor muurgedigte in Suid-Afrika. Daarin verwys sy na die gedigte in die digterstuin by die Breytenbach-sentrum. Carina het in 2018 by die Tuin van Digters opgetree.