Dirk Hattingh van Wellington het in 2011 op 85-jarige leeftyd as digter met sy eerste bundel gedebuteer
Skaars vier jaar later is sy vierde digbundel, Die Laaste Draai, gereed om vrygestel te word.
Volgens ’n bekende letterkundige is dit vir enige digter ’n besondere prestasie om vier digbundels in ’n raps meer as vier jaar te laat verskyn. In Hattingh se geval is al die gedigte in die bundels geskryf vandat hy veel ouer as tagtig jaar is.
“Nie alleen is dit gedigte van baie hoë gehalte nie maar daar is ook ’n skerp groeiende lyn vanaf die gedigte in die eerste bundel na die wat in sy jongste bundel verskyn.”
Oor sy eie digkuns sê Hattingh dat hy deur sy skerp assosiatiewe brein gelei word om gedigte te skryf.
“Ek hoor ’n woord en kort voor lank het daar ’n gedig rondom die woord in my kop gegroei. Iemand het onlangs op ’n vergadering gesê die byeenkoms was so lekker soos biltong eet. Kort daarna het ek die volgende gedig neergeskryf:
“Gedigte lees is soos biltong eet
Met respek in dun skyfies gekerf
Saggies tussen druppende wange rondgerol
Met aandag gekou, en dan die herkou
Soos die melkkoei laatmiddag met veraf blik herkou
Om die beste smaak uit elke vesel te suig
Daarom is gedigte lees soos biltong eet.”
Een van die gedigte wat in sy jongste bundel opgeneem is, is die gedig Vier, dalk sewe. Dis ’n gedig oor skoenlappers en dit het so ’n indruk op die mense by Butterfly World buite die Paarl gemaak dat hulle dit in hul jongste reklamestukke opgeneem het. Volgens hulle is dit ’n besonder aangrypende beskrywing van die kort lewetjie (vier tot sewe dae) van ’n skoenlapper en wat ’n skoenlapper alles in daardie kort tydjie vermag.
Hattingh se vierde digbundel word in Februarie amptelik bekendgestel.