Die digter en skrywer Basil Coetzee se eerste digbundel, Poetry Revolution – The people’s poetry, is by die onlangse voorlesing wat deur die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se Wellington-tak gehou is, voorgelees. Van links by die digter (naasregs) is personeel van die KSUT – Corné Conradie (verteenwoordigende raad vir studente), Lu-Ann Kearns (lektor) en Joanne Arendse (bibliotekaresse).


’n Paarliet wat sy eerste digbundel vrygestel het, is onlangs deur die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) in Wellington genader om sy digbundel voor te lees.

Die studente-, onderwysers, verskeie akademici sowel as lede van die gemeenskap van Wellington het in die biblioteek van KSUT bymekaargekom om die digbundel Poetry Revolution – The people’s poetry waarin 102 gedigte vervat is, eerstehands te hoor.

Die digbundel bevat gedigte wat in Engels en Afrikaans geskryf is.

Volgens die digter Basil Coetzee (60), wat sy skoolloopbaan aan Ebenezer-, Paarlzicht Primêr en die Hoërskool Noorder-Paarl voltooi het, het die skryfgogga hom gebyt en het hy 29 September 2018 sy eerste gedig geskryf.

Coetzee, wat sy aftrede geniet, het voorheen 31 jaar as korrektiewe toesigbeampte by verskeie gevangenisse, waarvan Pollsmoor een was, gewerk.

Hy is later tot paroolraadbeampte bevorder.

“Ek het die afgelope jare ook in Mitchells Plain gewoon en is baie keer deur gemeenskapslede geroep as ’n jong kind as gevolg van geweld dood is. Ek is 29 September 2018 weer ’n keer deur ’n gemeenskapslid geroep waar ek aanskou het hoe ’n ma haar tweede kind aan die dood afstaan – dít nadat haar oudste seun kort tevore in ’n skietery dood is.”

Coetzee vertel die emosie op die ma se gesig het daartoe gelei dat hy besluit het om sy pen te gryp en sy eerste gedig, “Die bitterste traan”, te skryf.

Die digbundel bestaan uit vier afdelings, naamlik gemeenskapsgedigte; sport, poetry, politiese en liefdesgedigte.

“Om gedigte te skryf, stel my in ’n posisie om ’n platform vir die slagoffer en die breë gemeenskap te skep,” sê Coetzee.

Coetzee se bundel is teen R200 elk te koop.

Belangstellendes kan 072 606 8812 skakel of ’n e-pos stuur na lulukearns@gmail.com om ’n kopie te bestel.

You need to be Logged In to leave a comment.