Die digter Ingrid Jonker, wat op 19 September 1933 gebore is en vandeesmaand 90 jaar oud sou wees, is die digter wat vanjaar by die 13de Tuin van Digters in Wellington gehuldig sal word.
Jonker, wat op 19 Julie 1965 oorlede is, se roerende gedigte en besondere lewe gaan op luisterryke wyse op 13 en 14 September by die Breytenbach-sentrum gevier word.
Dit sluit in ’n dokumentêre program (Ingrid Jonker – Wêreldwyd) deur Petrovna Metelerkamp oor Jonker se lewe, dood en nalatenskap.
Metelerkamp sal as digter ook oor haar eie lewe praat en van haar gedigte lees.
Jonker sou met die aanbieding van die fees 90 jaar oud wees en dit is die ideale geleentheid om haar postuum by hierdie samekoms van Afrikaanse digters en digkunsliefhebbers te huldig.
Só sê Francois Lötter, wat vanjaar weer die hooforganiseerder van die fees is.
Digters wat al by Tuin van Digters gehuldig is, sluit in Diana Ferrus, Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Adam Small, TT Cloete, Wilma Stockenström, Daniel Hugo en Alfred Schaffer.
Verskeie items, waaronder gesprekke en die lees en sing van toonsettings van Jonker se gedigte, is Vrydag en Saterdag deel van die feesprogram in en om die digterstuin.
Die res van die program bestaan oudergewoonte uit ’n verskeidenheid in woord en klank met die klem op Afrikaanse digters en digkuns.
Die Ingrid Jonker-prys vir ’n debuutbundel sal ook weer by die fees oorhandig word.
Die tema van Tuin van Digters 2024 is “Saamsaam” na aanleiding van Breyten Breytenbach se woorde tydens verlede jaar se fees: “Ons is ’n weerspieëling van wat die geskiedenis van ons gemaak het . . . en hoe ons mekaar mismaak het met die geskiedenis as verskoning. Die punt is egter: Ons gee wragtig nie toe dat ons so gemaak en laat staan is nie, want hierdie is ’n ruimte vir hibridisering en méér – vir saam-mekaarandersmaak.”
Tuin van Digters, die tuiste van die Afrikaanse digkuns, word moontlik gemaak deur Dagbreektrust se trust vir kuns, kultuur en erfenis in samewerking met NB Uitgewers.
Kaartjies kos R100 vir 13 September (alle items op die program ingesluit) en R250 vir 14 September (alle items ingesluit), terwyl ’n naweekkaartjie R300 kos.
Studente kan uitsien na R100 vir ’n naweekkaartjie en R50 per dag vir kinders onder 16.
Koop kaartjies aanlyn by Quicket.
. Besoek die Breytenbach-sentrum se webblad breytenbachsentrum.co.za vir die volledige program. Dit sal teen 10 Augustus beskikbaar wees.