Twee mans is Maandagaand (23 Junie) by ‘n sekuriteitskompleks in Vrykyk in die Paarl in hegtenis geneem nadat hulle oor die kompleks se hek gespring het toe ‘n groep van sowat tien mans hulle glo met grawe agterna gesit het.
Die twee mans en ‘n derde verdagte het na bewering die groep mans in die omgewing van Brugstraat probeer beroof. ‘n Derde verdagte het in die Bergrivier-boulevard weggehardloop en verdwyn, het ‘n inwoner van Vrykyk aan Paarl Post vertel.
Volgens die inwoner het die oproerigheid omstreeks 21:00 begin.
“Die res van die sekuriteitskompleks is met elektriese drade omhein. Dis net die hek wat nie het nie, dus kon hulle so maklik daaroor spring. Die groep wat hulle gejaag het, het buite die hek lawaai gemaak. Sommige het grawe gehad. Hulle het beweer dat die drie mans hulle probeer beroof het. Die kompleks se wagte het die situasie probeer beredder en hulp ontbied,” vertel die inwoner.
Die private veiligheidsmaatskappy Vetus Schola was volgens die inwoner binne enkele minute op die toneel, gevolg deur die Paarl-polisie.
“Hulle het die situasie dadelik kalmeer. Die twee verdagtes, wat nog binne die kompleks weggekruip het, is deur die polisie in hegtenis geneem. Die groep mans is toe gevra om die gebied te verlaat. Terwyl die twee in die vangwa gelaai is, was daar steeds ‘n oor-en-weer gestryery.”
Die inwoner het verder vertel dat Brugstraat, veral die gebied onder die brug langs die Bergrivier, “ ’n nes vir misdadigheid” geword het.
“Daar is so baie onheilighede wat onder daai brug en langs die rivier plaasvind. Kyk, nou raak dit onskuldige inwoners van die buurt.”
Kapt. Louise du Plessis, ‘n woordvoer- der vir die Paarl-polisie, het by navraag bevestig dat twee mans (22 en 34) in hegtenis geneem is. Volgens Du Plessis is ‘n mes en ‘n panga in hul besit gevind.
Hulle sou gister (Woensdag 25 Junie) op aanklagte van poging tot roof, betre- ding op private eiendom en die besit van gevaarlike wapens verskyn.