Twee van die drie verdagtes wat Dinsdagoggend by ’n onderneming in New Orleans ingebreek het. Enigeen wat die mans herken, kan die Paarl-Oos-polisie kontak. Foto:


’n Onderneming wat sedert 2016 uit ’n huis in Orleanslaan, New Orleans, bestuur word, is Dinsdag in die vroeë oggendure beroof.

Die huiseienaar en eienaar van die drukkersmaatskappy het Dinsdagoggend om 05:00 na dié deel van die huis wat die onderneming huisves, gegaan om te begin werk.

“Ek het iets gedoen toe ek oplet die radio wat gewoonlik in daai vertrek staan, staan nie meer daar nie. Toe draai ek om en sien dit staan op my lessenaar in ’n ander vertrek, en die skuifdeur na die vertrek is oop. Ek weet ek het dit die aand vantevore toegemaak.”

Hy het ondersoek ingestel en opgemerk sy rekenaar is ook nie op sy lessenaar nie.

“Toe ek nader gaan, kom daar ’n man uit ’n ander vertrek en toe hy my opmerk, rig hy ’n vuurwapen op my. Ek het groot geskrik en ’n tree agtertoe gegee. My voet het by die skuifdeur gehaak en ek het geval, maar in die val skop ek die skuifdeur toe en dit het gesluit. Die mans het toe van die toneel af gevlug.”

Hy verduidelik ook die kringtelevisie wys om 01:30 op beeldmateriaal hoe ’n man by die motorhuisdeur toegang tot die onderneming kry.

“Hy het ’n paar artikels gevat en is toe weg. Hy het om 03:30 teruggekom met nog twee mans en hulle het toe nog goed gevat. Hulle het verskeie rekenaars, gereedskap, die kringtelevisie­mo­nitors en nog ander goed gevat. Ek skat die waarde van die gesteelde goedere beloop omtrent R60 000.”

You need to be Logged In to leave a comment.