Die feestyd is op die horison en hoewel dit ’n tyd van viering is, word mense herinner aan dierewesies wat sonder sorg agterbly.
Bonita Denton van Rescue Obsessed Paarl (Rop) verduur veel angstigheid oor die aantal troeteldiere en werpsels wat op hul voorstoep beland.
“Aannemings neem skerp af dié tyd van die jaar, juis gedurende vakansietyd omrede niemand nou kans sien om die verantwoordelikheid te dra nie. Hondjies of katjies staan amper nie ’n kans nie,” sê sy.
Nóg ’n tendens wat Rop beleef, is dat sommige mense hul aangenome troetel-liefies selfs terugbring.
“Diegene verduidelik dat hulle vroeër vanjaar nie die kwessie van wegbreek tydens Desember in ag geneem het nie. Hulle kan glo ook nie geld afstaan vir oppassers nie en dan kom hulle terug en sê ‘ons soek nie meer die hond nie’.”
Denton voeg by dat die aantal diere wat aan hulle oorgegee, oftewel surrender word, ook drasties toeneem weens verskeie redes gedurende die feestyd.
“Baie mense wat ook verhuis, verkies om dit in Desember/Januarie te doen. Een so ’n vrou wat ’n babahondjie aangeneem het, het ook nou ewe skielik besef sy trek Johannesburg toe en het dus nie meer plek vir hom nie,” vertel sy teleurgesteld.
“Die festive season is ’n nagmerrie vir ons! Ons uitreikings in die informele gebiede toon verdere toenemende uitgawes.”
Dié in die informele gemeenskappe wat spaarsente in die maand het om ’n troeteldier te besit, gee dan eerder dié geld op geskenke of selfs alkohol uit om die vakansie te geniet, sê Denton.
Op haar beurt het Luzelle Möller van Wellington ook met Paarl Post gesels oor haar insae in Rop waar sy verlate babahondjies- of katjies van kleins af verpleeg.
Mits kleine troetel-lyfies in jou sorg beland, deel Möller haar wenke vir goeie versorging:
. “Van dag een ná geboorte het die babas dikwels nog hul naelstringetjies aan. Hul magies moet rondom die naelstring mooi skoon bly om infeksies te voorkom tot dit heeltemal uitdroog en vanself afval.
. “Dis noodsaaklik om hul lyfies warm te hou.
. “Indien hulle nog nie suig nie, moet jy besluit wat werk. Sommige tieties is te groot of te klein. In so ’n geval gebruik ek sommer ’n drukspuit om hulle te voed. Soms neem hulle net 1 ml op ’n slag.
. “Indien hulle nog pasgebore of bitter klein is, word hulle twee-uurliks gevoer – dit verg voeding regdeur die nag.
. “Onthou, waar die mamma normaalweg ná voeding hul magies lek en skoonmaak, moet ’n mens hul lyfies en magies met ’n klam warm lappie vryf sodat die kos deur hul organe kan werk en die toilet-sake kan gebeur.
. “Soos hulle groei, moet voedingstye vier-uurliks gebeur, ensovoorts . . .
. “Uiteraard benodig hondjies meer aandag met potty training, maar die katjies is te kostelik, want hulle is heeltemal instinktief in die manier waarop hulle gaatjies grou, hul stories doen en dit dan weer netjies toegrawe.”
Möller sê wesies bly normaalweg so tussen vyf en ses weke by haar tot hul tandjies begin uitkom.
“Dan die missie om liefdevolle huise vir hulle op te spoor. Dis harde werk en beslis nie maklik nie.”
Dit neem baie aandag, versorging en formulemelk, toerusting en hope handdoeke en komberse om dierewesies sorgvuldig groot te kry.
“Die formulemelk is ook duur. Maar dit is alles vir my lekker om sodoende die goedjies ’n kans op lewe te gee.”
. Rop het Saterdag (19 November) ’n deftige geldinsamelingsgeselligheid by The Venue in Paarl gehou ter ondersteuning van diereversorging in die vallei.
“Die gesellige aand was ’n sukses danksy die goeie ondersteuning van 63 mense wat dit bygewoon het. Die lootjies vir die prysuitdeling het baie goed verkoop en vlot verloop, wat die gaste baie geniet het.”
Sy sê dit was ook die ideale netwerkgeleentheid waarby Rop aan soveel nuwe ondersteuning blootgestel is.
“Ek glo dit sal lei tot goeie ondersteuning vir ons toekomstige doelwitte.”
Vir meer inligting oor Rop of beskikbare diertjies op soek na nuwe huise, bel Bonita by 078 502 3390.


