’n Nuwe stukkie hoop in die vorm van ’n Quantum-bussie vir die Newton Dienssentrum naby Wellington sal deure vir lede na ’n nuwe wêreld help oopmaak.
Die Newton-dienssentrum wat al van 1991 af bestaan, het onlangs ’n nuwe stel wiele gekry. Die vorige bussie het al sy dae gehad en lede van die sentrum het toe by die nasionale lotery aansoek gedoen vir geld vir die nuwe bussie.
Jan George, bestuurslid van die dienssentrum, sê die bussie word gebruik om die bejaardes van hul huise na die sentrum te vervoer, aangesien die meeste van hulle nie lang afstande kan stap nie. Die bussie vervoer hulle ook na die hospitaal of die verpleegsters na die dienssentrum om na die bejaardes se gesondheid om te sien.
Die dienssentrum bied kos, kunswerk en Bybelstudie vir bejaardes aan en gee hulle ook ’n kans om bymekaar te kom eerder as om alleen by die huis te sit.
“Baie van die bejaardes se kinders werk, dan sit hulle alleen by die huis. Die dienssentrum bied vir hulle iets aan om gedurende die dag te doen,” sê George.
Die Newton-dienssentrum het die nasionale lotery bedank vir die skenking van die nuwe bussie.. Kontak Jan George by 076 294 8668 in verband met enige navrae oor die Newton-dienssentrum.