Dienslewering by Paarlse toetssentrum stel steeds teleur

Inwoners van die Paarl is al vir ’n geruime tyd gefrustreerd oor die swak diens by die Paarl-verkeersafdeling se toetssentrum.


Inwoners van die Paarl is al vir ’n geruime tyd gefrustreerd oor die swak diens by die Paarl-verkeersafdeling se toetssentrum.

Die sentrum, wat verantwoordelik is vir die hantering van bestuurderstoetse, motorlisensie- uitreiking en ander verwante dienste, het ’n groot aantal klagtes ontvang oor diens wat stadig en ondoeltreffend is.

Hieroor ontvang Paarl Post deur die jare gereeld klagtes.

Veral teleurstellend is die feit dat hul telefone al lank buite werking is, wat enige poging tot navrae of afspraakreëlings bykans onmoontlik maak, tensy die publiek self hul tyd opoffer om die pad na die Daljosafat-toetssentrum self aan te durf.

Maar dan ook, kla die publiek, kom hulle daar en die deure is reeds toe.

Soos een klaer vandeesweek aan Paarl Post vertel het, was die kantore op Dinsdag 29 Oktober slegs tot 15:00 oop, maar hulle het reeds om 14:30 lede van die publiek begin wegwys.

Inwoners is bekommerd oor die beeld van dienslewering wat deur hierdie situasie uitgedra word.

“Hoe verwag die Drakenstein-munisipaliteit dat ons die verkeersafdeling moet kontak as hul telefone nooit werk nie?” vra ’n inwoner wat al dae lank probeer om navraag te doen oor ’n lisensie wat al ses maande uitstaande is.

Hierdie gebrek aan kommunikasie skep nie net ’n gevoel van hulpeloosheid onder inwoners nie, maar bring ook verdere twyfel oor die doeltreffendheid van die munisipale strukture binne die bestuur van Drakenstein.

Klagtes oor die verkeersafdeling se tekortkominge is nie nuut nie, en daar is ’n toenemende oproep vir die munisipaliteit om dringend aandag te gee aan die instandhouding van hierdie noodsaaklike diens.

Suksesvolle dienslewering vereis betroubare kommunikasie, en inwoners verwag dat probleme soos hierdie opgelos moet word om die betroubaarheid en toegang tot munisipale dienste te verbeter.

Paarl Post het by die munisipaliteit navraag gedoen om vas te stel wat is fout met hul skakelbord en wat word gedoen om ’n oplossing hiervoor te vind.

Die enigste reaksie en verduideliking hieromtrent van die munisipale woordvoerder Eda Barnard was: “Die Drakenstein-munisipaliteit is bewus van die probleem met ons telefoonstelsel. Ons gee dringend daaraan aandag en stel ondersoek in om die kapasiteit te vermeerder.”

Daar word gehoop dat die Drakenstein-munisipaliteit spoedig ’n oplossing sal vind vir hierdie uitdagings om sodoende die publiek se vertroue in hul dienslewering te herstel en weer doeltreffende toegang tot hierdie noodsaaklike dienste te verseker.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.