Inwoners van Noorder-Paarl moet bewus wees van moontlike diefstal uit motorvoertuie as ’n misdaadneiging wat in dié gebied ontwikkel, volgens Fidelity ADT, wat ook verduidelik het dat inwoners inligting oor sulke misdaadvoorvalle, of pogings daartoe, by die Paarl-polisie moet aanmeld.

Rolspelers in en om die Paarl deel die inligting en gebruik dit om hulpbronne beter te ontplooi en misdaad te help voorkom, het Warren Cassisa, takbestuurder van Paarl Fidelity ADT, gesê.

Cassisa doen ’n beroep op inwoners om waaksaam en bewus te wees van wat in hul omgewing gebeur.

“Indien jy iemand gewaar wat in geparkeerde motors loer, moet jy jouself afvra of daardie mens ’n rede het om daar te wees. Indien nie moet jy jou veiligheidsmaatskappy of plaaslike buurtwag vra om ’n patrolleerder te stuur,” het Cassisa verduidelik.

Die Paarl Fidelity ADT-tak waarsku die publiek om nie waardevolle goed in ’n geparkeerde motor te los nie (veral nie snags nie) en beveel ook inwoners aan om nie voertuie in stil gebiede te parkeer waar baie voetverkeer is nie.

Cassisa deel ook bykomende veiligheidswenke vir die beskerming van ’n hekmotor – dikwels geteikende toerusting waardeur inbrekers toegang tot eiendomme kry: . Maak seker dat hekmotors in ’n staalomhulsel, wat gesluit bly, vasgemaak is. Skelms plaas dikwels net hul hande deur ’n motorhek en skakel die hekmotor na die handleiding-stelling (vrylopende rat) oor.

Gebruik eerder ’n goeie gehalte slot om die hekmotor se diefstalbestande staalomhulsel te beveilig.

Installeer stoppers op motorhekke sodat inbrekers dit nie kan oplig nie en versterk dit deur ’n staalplaat teen die hekrat vas te sweis om te keer dat inbrekers die rat kan wegbuig.

You need to be Logged In to leave a comment.