‘Diefstal, moord en die K-woord’

Wat vir ’n biddende gesin tydens ’n maaltyd by ’n spogrestaurant op die Vrede en Lust-plaas in Simondium gelyk het soos ’n diefstal van ’n selfoon, het in ’n oogwink tot klagte van ’n rassistiese-aanval en poging tot moord ontaard.

Sarel Meyer en Ntombizodwa Sephoko het albei teenklagte teen mekaar ingedien en onderskeidelik in die hof verskyn.Foto: Twitter/The Truth Panther


Wat vir ’n biddende gesin tydens ’n maaltyd by ’n spogrestaurant op die Vrede en Lust-plaas in Simondium gelyk het soos ’n diefstal van ’n selfoon, het in ’n oogwink tot klagte van ’n rassistiese-aanval en poging tot moord ontaard.

Die Menseregtekommissie ondersoek ’n rassistiese voorval by die restaurant op die wynlandgoed waarby ’n man en vrou betrokke was, berig Die Burger.

Die man en vrou is later as Sarel Meyer en Ntombizodwa Sephoko (40) geidentifiseer.

Die voorval het reeds vroeër vanjaar op ’n sonnige 16 April by die Savoye-restaurant geskied, waarna albei partye teenklagtes teen mekaar by die Groot-Drakenstein-polisie ingedien het.

Volgens die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Frederick van Wyk, het Sephoko ’n saak van poging tot moord aanhangig gemaak nadat “ ’n groep mense besig was om te bid toe sy ’n selfoon op die vloer gewaar”.

Sephoko beweer dat sy gewag het tot die groep klaar gebid het om te vra aan wie die selfoon, wat sy glo opgetel het, behoort.

“Toe sy vra aan wie die selfoon behoort, is sy na bewering deur die beskuldigde aangeval en in die swembad gedruk.

“Die beskuldigde het glo ook ingespring en haar begin verwurg en probeer verdrink. Die beskuldigde se vrou het toe aangesluit om haar man van die klaagster te skei,” verduidelik Van Wyk.

’n Teenklag van algemene aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging is deur Meyer teen Sephoko geopen, voeg Van Wyk by.

“Volgens die klaer was hy en sy gesin op ’n plaas in Simondium. Die klaer het sy skoonma gevra om vir die kos te bid. Hy sien toe dat ’n onbekende vrou na bewering iets uit sy vrou se sak haal.”

Meyer beweer dat Sephoko hom toe in die swembad gedruk en hom geklap het. Tydens dié rumoer is die selfoon wat aan Meyer se vrou behoort, beskadig.

Video-opnames van die voorval, wat in ’n swembad op die landgoed uitgespeel het, is wyd op sosiale media versprei.

Die beeld is bewerig afgeneem terwyl die gespartel in die swembad slegs in die agtergrond gehoor kan word.

Wat duidelik hoorbaar opgevang is, was ’n man wat skree: “Wat gaan jy sê? Jy f***** steel! . . . Jy gaan tronk toe, sussie!” Dit terwyl ’n vrou op haar beurt skree: “Sorry, bhuti! Sorry, bhuti!”

Bewerings van rassisme word by die beskuldigings betrek vanweë die K-woord glo teen Sephoko gebruik is. Sulke taal is egter nie in die video-opname hoorbaar nie.

Daar is ook berig dat die kringtelevisie-beeldmateriaal reeds verwyder is teen die tyd wat die polisie ondersoek by die Savoye-restaurant ingestel het.

Op die vraag waarom hulle ná die voorval nie ’n poging aangewend het om die beeldmateriaal te prioritiseer en sodanig te bewaar nie, antwoord die bestuurder van die Savoye-restaurant, Etienne Buys: “Die rede waarom ons geen poging gemaak het om die beeldmateriaal te hou nie is omdat die polisie reeds die Sondag (16 April) daar was, en beide partye met die samewerking van die polisie geskik het.

“Daar is aangedui dat daar geen verdere optrede sou wees nie,” verduidelik Buys.

Volgens hom het Sephoko toe reeds erken dat sy wel gesteel het.

“Die party wat haar glo in die swembad ingeduik het, het ook om verskoning gevra. Dus het die polisie Sondagmiddag toe só die verklarings afgeneem en albei partye is huistoe.

“Ons is eers twee weke later weer deur die polisie genader en meegedeel dat die dame ’n saak van aanranding en poging tot moord gemaak het. Toe was dit egter te laat om die kringtelevisie-beeldmateriaal te herwin.”

Buys noem verder die bestuur het voorheen al met soortgelyke “distract and steal”-bendes by die proelokaal te doen gehad.

“Dis waarom ons die polisie laat kom het om die saak op die rekord te plaas en dit nie net self te hanteer het nie. Ons wou seker maak dat die polisie die saak in hul voorvalleboek aanteken.”

Albei partye het reeds hul verskyning in die hof gemaak op onderskeidelik 30 Mei en 6 Junie.

. Rapport berig dat dit nie die eerste saak van diefstal is wat teen Sephoko aanhangig gemaak is nie.

“ ’n Klag van diefstal van ’n selfoon is in Maart verlede jaar in Hermanus teen Sephoko teruggetrek.

“In September verlede jaar is sy aangekla weens die besit van ’n gesteelde voertuig en diefstal van ’n gesteelde voertuig in onderskeidelik Kraaifontein en Wellington,” berig Rapport.

You need to be Logged In to leave a comment.