Landbouwerkers in feitlik enige bedryf is werklik die hartklop van die Suid-Afrikaanse en veral plaaslike ekonomie.
Dit is dus nie aangenaam om op sosiale media en in die media te moet lees oor hoe plaaswerkers steeds in haglike omstandighede moet werk of woon nie.
In vandeesweek se uitgawe berig ons oor ’n goeie inisiatief deur verskeie plase in die wynlande wat in stede daarvan om werkers deur ’n uitsettingsbevel te verwyder, hulle eerder na laekostebehuising verskuif.
Skokkende onthullings is egter nou gemaak oor die lewensgehalte en strukturele agteruitgang van hierdie huise – met baie van die inwoners wat steeds op hierdie plase woon en waarskynlik daar gaan aftree.
Dan is daar ook die kort brokkie oor die grusame ongeluk op die R44 gisteroggend waarin twee werkers gesterf het en meer as 20 beseer is. Verbeel jou – so baie landbouwerkers agter op ’n oop voertuig!
Hierdie ongeluk het weer eens die kollig geplaas op die jare lange probleem van die vervoer van werkers. Baie sal argumenteer dat plaaseienaars nie verplig is om vervoer aan werkers te voorsien nie, maar dit spreek egter boekdele van hoe jy eintlik oor die veiligheid en welstand van jou werkers voel.

