Johan Dempers en Muldéne Holloway, die twee Wellingtonners wat deel is van ’n groot navorsings-ekspedisie na die reënwoude van die Amasone, het gister per vliegtuig op die eerste been van hul lang reis na dié deel van Suid-Amerika vertrek..
Volgens Johan Dempers sal hulle in Suid-Amerika aansluit by ’n internasionale navorsingspan wat vir meer as ’n maand lank in ’n ongerepte en afgeleë deel van die reënwoude gaan werk.
“Ons reis per vliegtuig na Sao Paolo en van daar per pad en uiteindelik per boot na die digte woude langs die Rio Juruna, ’n sytak van een van die sytakke van die Amasonerivier.
“Die doel van die reis is om ’n onbekende deel van die reënwoude in die westelike deel van Brasilië te gaan verken. Min is nog oor dié deel van die woude bekend. Baie van die stamme wat hier voorkom was nog nooit in aanraking met Westerlinge nie en die wêreld waar hulle woon, is ook nog baie onbekend.”
Volgens Dempers is die woude wat hier voorkom so dig dat dit heeltemal donker op die grond onder die bome is. Die blaredak is so dig dat, wanneer ’n groot reënbui oor die woude uitsak, dit tot tien minute kan neem voordat die reënwater wat op die boomtoppe val die grond bereik.
Onderweg na dié dele van die reënwoude sal die ekspedisie ook aandoen by ’n gedeelte van die woude wat afgebrand het en waarvan die grond onder die bome vir die eerste keer in baie eeue behoorlik bestudeer kan word.
Daar is gevind dat daar millennia gelede tamaai hiërogliewe op die rotse op die grond uitgekap is. Die ekspedisie wil onder meer ’n studie van hierdie rotstekeninge wat al die eeue deur die digte plantegroei bedek was, gaan maak.
As alles volgens plan verloop, hoop Dempers en Holloway om weer in Oktober terug te wees in Suid-Afrika.
Die vordering van hul ekspedisie kan by info@expeditionamazon.info gevolg word.