Inwoners van Dorpstraat in die omgewing van die Rembrandt-winkelsentrum in die Paarl sê hulle is nou raadop nadat verskeie pogings aangewend is om die Drakenstein-munisipaliteit sover te kry om ’n deel van die pad te herstel wat in Junie vanjaar weens swaar reënval weggespoel het.
Mynhardt Loubser, ’n inwoner en lid van die plaaslike belastingbetalersvereniging, het vandeesweek aan Paarl Post gesê nadat die eerste tekens van die skade sigbaar geraak het, het hy dit op 26 Junie op die munisipaliteit se SeeClickFix- toepassing met foto’s van die skade aangemeld.
“Tot op hede is die enigste vorm van daadwerklike reaksie die gevaartekens wat daar geplaas is,” sê Loubser.
“Dit is absoluut skokkend en kommerwekkend dat die belastingbetaler so tot op sy knieë gedwing word om amptenare te kry om te reageer.
“Op die ou einde is dit die belastingbetaler wat vir daardie skade gaan moet opdok. Hoe langer ons wag om die pad te herstel, hoe erger word die skade en hoe meer gaan dit ons kos,” benadruk hy.
Hy sê hoewel die skade aan die einde van Dorpstraat teen die Bergrivier aangetref word, is die munisipale gevaartekens tans die enigste ding wat motoriste en ander padgebruikers waarsku oor die weggespoelde pad, wat nou soos ’n sinkgat lyk.
“Ek het selfs so ver gegaan om ander inwoners te kry om dieselfde skade op die toepassing te rapporteer. Ek het ook intussen verskeie e-posse aan die betrokke raadslid gerig.
“Daar lyk die pad soveel erger as wat dit was toe ek dit aanvanklik in Junie gerapporteer het,” sê Loubser.
Volgens hom het die grond teen die oewer van die Bergrivier so weggespoel dat daar nou ’n groot opening onder die heining is.
“Ons het voorheen hard geveg om daardie omheining opgerig te kry. Nou is dit weer maklik vir misdadigers om die gebied te betree, want hulle kan onderdeur die draad klim.
“Boonop is die weggespoelde pad ’n seer oog. Dit lyk net nie netjies nie en sal enigiemand ontmoedig wat oorweeg om eiendom hier in die omgewing te kom koop.”
Louis Pienaar, uitvoerende direkteur vir ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het egter by navraag aan Paarl Post ontken dat skade hoofsaaklik weens die stormweer veroorsaak is.
Pienaar sê beweerde onregmatige gebruik van hierdie munisipale grond vir konstruksiedoeleindes kon moontlik bydra tot die strukturele agteruitgang van die grond.
“Beweerde onwettige konstruksiewerk in die gebied het gelei tot die blootstelling en gevolglik die beskadiging van die groot munisipale stormwaterpyp tydens die vloed vroeër vanjaar.
“Ons stormwaterdienste het ’n interne assessering gedoen en ons wag tans op ’n verslag van ’n professionele strukturele ingenieur wat die kosteberaming sal doen.
“Die beraamde voltooiingsdatum van die herstelwerk is Februarie 2025,” sê Pienaar.
Paarl Post het in April vanjaar berig oor inwoners se ongelukkigheid oor ’n oop stuk munisipale grond langs die Bergrivier wat glo deur ’n konstruksiemaatskappy gebruik is om onder meer hul boumateriaal hier te stoor.
Dit het volgens inwoners tot geraas- en stofbesoedeling in die gebied gelei.
Pienaar het in daardie stadium gesê die maatskappy se aktiwiteite is onwettig en dat die gepaste optrede sou volg.
LEES OOK | Aksie kom teen maatskappy wat boumateriaal langs Bergrivier stoor