Foto ter illustrasie.Foto: Pexels


Die afgelope Sondag (12 November) se voorbladartikel in die Sondagkoerant Rapport – oor ’n “nuwe” uitvoervereiste wat boere moet nakom en wat oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) handel – het hewige kritiek ontlok.

Omdat soveel boere binne die Drakenstein-munisipaliteit boer met veral ’n groot aantal wynprodusente wat hul wyne uitvoer, het Paarl Post uitgereik na ’n paar rolspelers oor dié omstrede artikel om die kaf van die koring te skei.

Die afgelope Maandag (13 November) het Die Burger ook ’n artikel oor die onderwerp geplaas, maar dit was teenstrydig met wat Rapport berig het.

Luidens die artikel van Rapport moet boere aan ’n “nuwe” vereiste voldoen wat op 31 Oktober en 1 November “stilletjies” in die Staatskoerant gepubliseer is en wat boere dwing om van SEB [swart ekonomiese bemagtiging] gebruik te maak om sodoende permitte van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling te verkry indien hulle na Brittanje en die Europese Unie uitvoer.

Die Burger het egter berig die artikel is feitelik verkeerd en dat die skrywe reeds in die Staatskoerant het in September 2017 verskyn het, waarna boere wat ’n omset van meer as R10 miljoen per jaar behaal, die uitvoervereistes moet nakom.

Rapport se artikel het opnuut kommer by organisasies in die landboubedryf gesaai, wat vure moes doodslaan deur aan hul lede te verduidelik dat die vereiste nie nuut is nie.

Volgens Rapport se artikel geld die uitvoervereiste vir melk, room, botter, vrugte, neute, suiker, konfyt, vrugtepuree, vrugtesappe, gis, tafeldruiwe en wyn, maar Die Burger het berig slegs konfyt, geblikte vrugte, vrugtesap en wyn is ter sprake.

Volgens AJ Griessel, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (SATI), is Die Burger korrek omdat die uitvoervereiste nie op vars produkte, soos vrugte, gemik is nie.

AgriWes-Kaap het in ’n e-pos-skrywe aan Paarl Post gesê hulle “verstaan dat die gepubliseerde [uitvoer]vereiste dié van vorige jare weerspieël en dat verskeie faktore in ag geneem word by die toeken van uitvoerpermitte; onder meer die markaandeel van aansoekers, die kwota waarvoor aansoek gedoen word, die totale beskikbare kwota, die aantal aansoekers en die SEB-status van aansoekers”.

Volgens ’n mediaverklaring van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, wat ook uitgelig is in persverklarings van Agbiz sowel as die Suid-Afrikaanse wynorganisasie SA Wine, is die vereistes nie nuut nie en “weerspieël dit vorige jare se vereistes”.

“Daar is geen SEB-vlak wat ’n aansoeker [wie se omset meer as R10 miljoen is] moet bereik om ’n permit te kry nie.

“Die SEB-status van die aansoeker is slegs een faktor wat saam met ander faktore onder die SEB-uitvoervereiste oorweeg moet word,” sê die departement.

SA Wine se persverklaring verduidelik dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf “aansienlike” voordele ontvang van hul uitvoervennootskap tussen Brittanje en die EU en dat verkeerde feite die vennootskap kan belemmer.

“[Die] EU-vennootskaps­ooreenkoms bestaan uit 117 miljoen liter per jaar met ’n 70:30-verdeling tussen gebottelde en grootmaatwyn, terwyl die VK-vennootskap 73 miljoen liter per jaar behels en op dieselfde manier verdeel word,” luidens die persverklaring.

“Die impak en doeltreffendheid van hierdie noodsaaklike handelsooreenkomste word tans hersien met die oog daarop om dit uit te brei en te verbeter. Gesien in die lig van die sensitiewe aard van die besprekings is dit noodsaaklik dat openbare kommentaar vanuit ’n feitelike en gekontekstualiseerde oogpunt gelewer word.”

Volgens Dirk Breytenbach, uitvoerende voorsitter van Drakenstein Sakekamer, hetsy die uitvoervereistes vandeesmaand of in September 2017 gepubliseer is, hou dit steeds ’n negatiewe impak vir die plaaslike en nasionale ekonomie in.

“Hierdie poging van die sentrale regering om alles kunsmatig te wil manipuleer, sal ongetwyfeld verdere verdeeldheid in die land saai en indien voortgegaan word daarmee, sal dit ’n vernietigende uitwerking op die landbou en die breër ekonomie hê.

“Verskeie burgerlike organisasies het reeds aangedui dat hulle die wetgewing in die howe sterk sal teenstaan. Die landbou en die breër ekonomie sal inplof as ons nie bewese vryemarkbeginsels kan toepas om ons ekonomie te herbou nie. Weer eens sal waardevolle poste in die landbou verlore raak en wydverspreide armoede onder die reeds steierende werksmag aanwakker.”

You need to be Logged In to leave a comment.