Só het Hunter Kennedy van die groep Heuwels Fantasties verlede Donderdag met ’n knop in die keel verklaar nadat hy na die Weltevrede Sekondêr op Wellington se leerlinge se werk geluister het.
Hunter was daar vir die bekendstelling van ’n splinternuwe Heuwels Fantasties-lied. Die lied is grotendeels die werk van dié leerders. Dis hul woorde en stemme wat op die nuwe snit gehoor kan word. Hemelbesem was ook by die opnames betrokke.
Die leerders is deel van ’n eksklusiewe groep Piemp, ’n inisiatief van die narratiewe terapeut dr. Théresè Hulme, wat reeds in 2005 in Kraaifontein begin het om digkuns onder jongmense te bevorder. Hulme is deur die Breytenbach-sentrum op Wellington genader en gevra of sy die projek daar kan aanbied.
Piemp beteken om uit te praat of te klik. Soos een van die leerlinge, Raygen Dirkse, dit so mooi sê: “Jy waag dit om te praat waar daar nog nie vantevore gewaag is om te praat nie.”
En dit is wat Piemp die laaste twee jaar by Weltevrede reggekry het: Hulme kon met die ondersteuning van twee Weltevrede-onderwysers, Ashlene Ayford en Marlize Fortein, en die hoof, André Semmery, ’n veilige ruimte skep waar leerders aangemoedig is om te praat en te skryf oor die taboes van die samelewing, in húl taal, met hul eiesoortige metafore uit hul unieke leefruimte.
In hul Afrikaanse klas het van die leerders Antjie Krog se gedig “Ma” gelees, en as oefening is die leerders gevra om elk hul eie Ma-gedig te skryf. Die resultaat was so hartroerend dat Hunter Kennedy en Pierre Greeff van die Heuwels Fantasties die leerders se woorde gebruik het om die lied te skep wat nou vrygestel is. Dis ’n ode aan alle ma’s: Aan dié wat dood is, aan dié wat weggeloop het, aan dié wat elke dag in die son swoeg om te voorsien.
Hunter en Pierre het nie regtig geweet wat om te verwag toe hulle besluit het om by die projek betrokke te raak nie. “Maar van die eerste dag af was dit baie duidelik dat hier baie cool stuff gaan uitkom,” het Hunter aan die gehoor gesê. “Ons is in die musiekbedryf, so ons het gedink ons sal julle woorde vat en in musiek omsit, min wetend dat julle dit sommer self kan doen. So ek weet nie eens hoekom ons dit gedoen het nie,” spot Hunter. Hy was deel van ’n luisterryke gehoor wat voor die vrystelling van die snit na die Piempers se voordrag kom luister het. “Dit was net amazing om daar te sit. Julle is werklik inspirerend,” het hy later aan die Piempers gesê en swaar gesluk aan die oorweldigende emosies wat hul woorde ontlok het. “Ek scheme die toekoms van Afrikaans is hier!”




