In 1977 was daar ’n Afrikaanse TV-reeks getiteld Net ’n bietjie liefde. Onder andere Esmé Euvrard en Dana Niehaus (Danie se pa) het daarin opgetree. In een van die episodes het hulle gepraat van waterblommetjie-bredie. Die gloeilamp van die gedagte aan ’n liedjie het feitlik onmiddellik begin skyn . . .

Ek het destyds twee trilogieë oor my Kaapse fiksasie geskryf, wat begin het met my navorsing vir Jantjie, die blyspel vir die kinders van St. Stithians College, waar ek skoolgehou het, asook my gesprek met die Kaapse kenner en digter wyle ID du Plessis: Jantjie, Hanoverstraat en Waterblommetjies. Later ook Antjie Somers, Die Kaap is weer Hollands en Atlantis.

Soms, soos met Pampoene oppie dak, neem liedjies jare, meestal maande, maar met Waterblommetjies onthou ek dat ek opgestaan het, studeerkamer toe is en ongeveer 15 minute later was die eerste konsep, oftewel oefenlopie, klaar.

Waterblommetjies (die volledige weergawe) het agt versies, ’n koor en ’n mid-8. Daar was aanvanklik ’n paar ander versies ook by wat ek uitredigeer het. My eerste mentor, Louis Combrinck, het gesê die ketting is so goed as die swakste skakel.

Waterblommetjies is die kollektiewe resultaat van my Kaapse fiksasie. Ek het besluit om dit ’n algemene beskrywing te maak en dan die reis van die drie skepsels vanaf Dassiepunt (naby Millar Point op die Kaappunt-skiereiland) na Duiwelspiek. Dis ’n reis van ongeveer 45 km. Houtbaai met Karbonkelberg wat bo dit uittroon, is op die roete.

Die trane van die engel was oor Distrik 6 en Atlantis en gedwonge verskuiwings.

Die Mayflower was ’n vistreiler in die jare vyftig wat van Houtbaai af gewerk het.

Michiel Otto, Eileen op Gansbaai se man, Klein Mike, se pa, het op die Mayflower gewerk.

Dit was die titelsnit vir Sonja Herholdt se derde album. Laurika Rauch het ’n dekopname in 1979 gedoen asook Jors Troelie met ’n verkorte weergawe vir die Kruidjie-roer-my-nie- solus 7-enkelsnit. Daar was verskeie dek-opnames oor die jare, onder meer Richard Clayder­man, Die Alabama-studente­geselskap, Myra Maud in Frans, Joey Louw, Ron Franchitti, Die Oosrandse Jeugkoor, Trevor Nasser, Coenie en Petro de Villiers, Anna Davel en Ollie Viljoen, ensovoorts.

In die jare tagtig was ek jare lank die Waterblommetjie-fees by Schoongezicht in die Paarl se beskermheer en moes ek jaarliks Mej. Waterblommetjies kroon.

Ek het dikwels van daai jong skoonhede jare later as volwassenes by vertonings raakgeloop. My sangmaat, Lise Swart, was in gr. 1 juis in dieselfde klas as Alicia Smal, wat toe Juf. Waterblommetjies 1985 was!

“Waterblommetjies

waterblommetjies in die boland,

waterblommetjies in die kaap.

maak die bredie net soos in die wynland

en sê jy’s baie lief vir my voor jy gaan slaap.

daardie wind waai weer by my voordeur in

en hy maak my hart mos aan die sing:

dis lekker om die kaap weer dag te sê.

en ek vat jou saam na die koringland,

wie ry saam as my hart so brand

dit is lekker om die boland lief te hê.

van hunks het al sy pyp gestop,

tafelberg se hoed is op

en die bergies begin al huis se kant toe staan.

groenpunttoring knip sy oog,

die suidoos maak so ’n wye boog

en de waalpad help jou as jy huis toe gaan.

want die luggie hier is vry waar my hart heeltyd wil bly

en ek wil my langs oumies victoria neer gaan vly

laat ons deur die tuine loop

by die parade iets gaan koop

as die wind so koud waai

laat ek eers gou jou jas vasknoop

o kaap, o kaap, o, mooiste kaap,

jy maak my hart weer baie seer,

jou ghantang kom mos altyd weer en weer.

die Mayflower het uitgevaar,

gaan snoek haal daar by houtbaai, waar

karbonkelberg die stormsee gewaar.

drie skepsels het by dassiepunt

na die ster gekyk en teen die wind

in voet geslaan en die stralekrans aangegee

en hul’t teruggekeer na tafelbaai

en op duiwelspiek vir die engel gewaai

en die engel het trane uit sy oë gevee.”

You need to be Logged In to leave a comment.