Die soetdoring (Vachellia karroo, voorheen Acacia karroo), soos Palmer en Pitman tereg sê in hul meesterwerk Trees of Southern Africa, kan beskou word as een van die “groot” bome van Suid-Afrika, nie vanweë sy statuur nie (hy is selde hoër as 12 meter), maar omdat hy die wydste verspreidingsgebied en die meeste gebruike van al ons land se bome het. Dit is ’n boom wat baie na aan die hart lê van enigiemand wat ons inheemse bome waardeer.
Die tipiese soetdoring is ’n klein tot middelgroot boom, immergroen of bladwisselend (afhangend van omgewingstoestande) met ’n spreidende of soms geronde kroon wat betreklik laag af op die stam begin vertak. Die blare is fyn verdeel, dubbelveervormig saamgestel, jong takke is rooibruin, ouer takke donkerbruin, die bas op die stam is grof met soms ’n aantreklike roesbruin kleur in die diep groewe. Die soetgeurige, heldergeel, bolvormige blomhofies verskyn dwarsdeur die somer – elke keer as die boom reën ruik, sê die Karooboere – en word gevolg deur sekelvormige, bruin, oopspringende peule. ’n Opvallende kenmerk van die soetdoring is sy skrikwekkende, skerp, wit dorings wat in reguit pare voorkom. Die dorings, wat tot 15 cm lank kan word, is veral vreesaanjaend by jong bome, by die laer takke van ouer bome, en by bome wat in droër gebiede staan.
Die natuurlike verspreidingsgebied van die soetdoring strek van die Wes-Kaap dwarsdeur die hele Suid-Afrika tot in Zambië en Angola. In die droogste dele van die Karoo is hy dikwels die enigste inheemse boom wat kan oorleef, en daarom was hy vir ons voorgeslagte in hierdie dorre streke van onskatbare waarde. Dit verklaar die spesienaam karroo (met die dubbele r, volgens plantkunde-konvensie vasgelê soos die spelling in die verlede was). Met so ’n verspreidingsgebied moet die boom uitermate aanpasbaar en gehard teen droogte en winterkoue wees. In droë streke word die soetdoring beskou as ’n aanduier van water, hetsy ondergronds of bogronds. Veeboere beweer die soetdoring is ook ’n aanwyser van soet veld.
Die dorp De Doorns aan die voet van die Hexrivierberge is genoem na die soetdorings wat volop in die omgewing voorgekom het. Vermoedelik so ook die Doringrivier wat noord van Matroosberg ontspring en van daar met ’n wye draai verby die Tankwa-padstal en noordoos van die Sederberge vloei om uiteindelik naby Trawal by die Olifantsrivier aan te sluit. Ek sal nooit ’n soetdoring sien nie of ek dink aan die reël “en doringbome fluister in rooi skemerduister” uit Jan F. Celliers se gedig “Die Vlakte”, ’n reël wat soms deur ’n geliefde Afrikaans-onderwyser op skool aangehaal is en wat resoneer by enige Karoo-mens.
Dis moeilik om vandag ’n idee te vorm van hoe waardevol die soetdoringboom was vir die vroeë bewoners van die Karoo. Dit is gebruik vir skadu en skuiling, vir gesogte veevoer in droogtetye (blare, blomme en peule), takke is gebruik vir heiningpale en vir veekrale as beskerming teen ongediertes, dorings is gebruik as stopnaalde, en om die vroeë natuurkundiges se insek-eksemplare op die vertoonborde vas te pen. Die hout is gebruik vir wawiele en huisraad.
Die blomme is ’n uitstekende bron van nektar en stuifmeel vir byeboere, en die insekte lok op hul beurt ’n verskeidenheid van voëls. Die bas is gebruik vir leerlooiery en van die binnebas kan ’n bruikbare tou gemaak word wat, anders as leerrieme, nie rek as dit nat word nie. En, les bes, skei die boom ’n helder, goudkleurige of rooierige gom af waar die bas beskadig word. Die gom het ’n aangename, effe suur smaak en is ’n groot gunsteling by kinders en ape.
En nou het ons nog glad nie geraak aan die beweerde medisinale gebruike van die soetdoring nie.
Eienaardig genoeg moes ek ’n bietjie soek om soetdorings in die Paarl op te spoor. Uiteindelik het ek twee langs die Boulevard opgemerk waar die foto geneem is.