’n Gelukkige personeel verseker gelukkige kliënte, en dit is een van die redes hoekom die Spar-apteek in Charleston Hill in Paarl-Oos onlangs as die streek se Apteek van die Jaar aangewys is.
Paarl Post het vandeesweek by dié apteek gaan inloer. Ons is sommer met ons aankoms deur vriendelike personeel verwelkom.
Martha Hlongwane, die hoofapteker, sê dit is vir hulle belangrik om ’n omgewing te skep waar kliënte (pasiënte) tuis voel.
“Mense kom hier vir verskillende redes en met verskillende toestande. Ons weet nie wat hulle gemoed en gesondheid is nie, dus moet ons seker maak dat hierdie ’n plek is waar hulle voel dis familielede met wie hulle te doen het – hulle moet dus gemaklik voel,” sê sy.
Hlongwane sê hulle is altesaam agt personeellede, wat ’n veiligheidswag en skoonmaker insluit.
“Dit maak my eintlik emosioneel as ek daaroor moet praat. Ek dink ons het die mooiste, vriendelikste en mees ondersteunende groep mense hier. Ons kom almal van verskillende agtergronde, maar as ons hier instap, is ons een.
“Ek dink dit is presies hoekom kliënte terugkeer. Hierdie samewerkende gees is so duidelik onder elkeen van ons, en dit is wat kliënte wil sien. Jy moet onthou dat ’n mens mos baie vinnig die atmosfeer en energie kan aanvoel wanneer jy by ’n plek instap. Hier by ons is dit slegs positiewe energie.”
Sy sê van die elemente waarna in die beoordelingskriteria gekyk word, sluit die algemene jaarlikse prestasie van die winkel asook lojaliteit met verskaffers en kliënte in.
“Interessant genoeg kry ons nogal kliënte uit die hele Paarl. Ek dink dit is grootliks weens ons sentrale ligging. Hier is ook ’n kliniek hier naby, dus, wanneer dit gewoonlik besig raak daar, sal pasiënte na ons toe kom.”
Sy sê hulle bied ’n spektrum basiese gesondheidsorgdienste aan.
“Mense kan byvoorbeeld hul bloeddruk en suikervlakke hier kom toets. Ons doen ook papsmeer. Ons het ’n weeklikse babakliniek en doen ook gesinsbeplanning. Hier is dus regtig iets van alles.”
Die apteek is geleë by die Spar-sentrum in Van der Stelstraat en is daagliks oop van 09:00 tot 19:00 en Sondae van 09:00 tot 13:00.


