Die Paarlse akteur en regisseur Roberto Kyle, wat bekend is vir rolle in onder meer Arendsvlei en Sons of the Sea, het die hoofrol losgeslaan in die Kanadese rolprent Clickbait: Unfollowed.
Dié riller volg ’n groep smaakmakers wat na ’n huis genooi word vir ’n kompetisie, maar eers later besef hulle die dodelike gevolge van dié spel.
Die rolprent delf in die sinistere kant van sosialemediaroem en wys hoe ver mense sal gaan om likes en volgelinge op sosiale media te kry.
Clickbait: Unfollowed is Vrydag 7 Junie eksklusief op die internasionale stroomdiens Tubi uitgereik.
Kyle het vandeesweek aan Paarl Post vertel sy agent het hom verlede jaar meegedeel dat die regisseurs en aktrises Katherine Barrel en Melanie Scrofano spesifiek gevra het hy moet die hoofrol in hul rolprent vertolk.
“Ons was in daardie stadium nog besig om aan onder meer Arendsvlei te verfilm.
“Ons was ook besig by die Woordfees in Stellenbosch en het ook voorberei vir ’n produksie in Johannesburg.
“Ek het aanvanklik gelag daaroor en gedink dis ’n grap.
“Te midde van alles wat in daardie stadium gebeur het, het ons wel tyd in my besige skedule gevind om Clickbait te verfilm,” het hy vertel.
Sonder om te veel oor die rolprent weg te gee, het Kyle verduidelik wat die produksie behels.
“Die rolprent handel oor ’n groepie smaakmakers wat na ’n ander smaakmaker se huis genooi word om aan ’n kompetisie deel te neem waarin gekyk word wie die meeste deelname op hul sosialemediaplatforms kan kry.
“Hoe meer likes en followers jy kry, hoe groter is jou geldprys aan die einde van die kompetisie. Dit gaan dus basies daaroor om die konsep van sosiale media te gebruik as ’n middel om te sien hoe ons mense in die werklikheid teenoor aanlyn behandel,” het hy verduidelik.
Hy sê die rolprent het hom ook laat self-introspeksie doen.
“Dit is maskers wat ons baie keer op sosiale media sien. Dus, hier kom die maskers af, en die individue agter die maskers word ontbloot. Die rolprent bevraagteken hoe ver sosialemediapersoonlikhede sal gaan om bo die res uit te styg.
“Dit het werklik my ook laat reflekteer oor my eie verhouding met sosiale media en hoe my gehoor dit wat ek plaas, inneem. My verhouding met my volgelinge is vir my ongelooflik belangrik.”
Kyle was nie die enigste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat by die riller-rolprent betrokke was nie. Daar was ook ander plaaslike akteurs en lede van die rolprentspan.
Hy is ook intussen besig met ander opwindende aangeleenthede.
Hoewel hy nie veel daaroor kon uitbrei nie, het hy aan Paarl Post bevestig dat hy in Augustus in ’n plaaslike produksie te sien gaan wees.
“Ek kan nie nou veel daaroor sê nie, maar ek kan wel noem dat die Afrikaanse gehoor daarby aanklank gaan vind,” het hy verklap.