Die stilte van die Karoo is oorverdowend. Die dorre niksheid groei kniehoogte en die vlaktes strek ver oor die horison.

’n Plaasbakkie se dreun weergalm in die stilte terwyl die sonbesies as ’n wekker dien.

Die skape wat vashou aan die laaste greintjie groen gras verskaf ritmiese musiek soos hulle roep, waarna voëlspesies soos die Swartgeelvinkie en die Gewone Janfredrik die orkes met fluitagtige klanke uitbrei.

Wanneer die hane kraai, sal die son binnekort die horison soen en gedurende die wintermaande die koue probeer verdoof.

Dit is hiér waar jy jouself kan vind – of verloor.

Die niksheid kan óf terapeuties óf sieldodend wees.

Die grond het ’n spesifieke reuk – anders as die res van die land – en selfs huisdiere dra van dié reuk met hulle saam.

Wanneer hulle gebad word, is dit eintlik maar tyd mors, want een draai buite en hulle ruik weer so.

Maar, dan is ’n mens ook maar bly, want iets wat nie daardie aardse reuk het nie, hoort nie hier in die Karoo nie.

Alles in die Karoo is in die oortreffende trap. Dit is óf baie warm óf baie koud. Die sneeu is óf baie op ’n gegewe tydstip, óf nie genoeg om die somer te dra nie. Dit reën is ook óf te veel óf nie genoeg nie.

’n Konstante, nietemin, is die feit dat dit altyd droog is.

Hiéroor stry boere nooit, en stuur dan maar ’n skietgebedjie op vir nog reën.

Sodra die laaste druppel geval of vlokkie sneeu die grond geraak het en die sonnetjie die volgende dag uitkom, kruip al wat ’n ding is uit hul gate.

Dit is asof die nattigheid vernuwe.

Plaasdiere skree en laat weet die boere dat hulle nog leef en dat hulle ook maar bly is vir die greintjie reën, terwyl die boere op hul knieë neersak en dankie sê dat hul gebede beantwoord is.

Hoewel die reën nooit onmiddellike verligting bring nie, is dit die hoop dat die volgende jaar se somer minder dor sal wees.

Die Karoo-mense is ook anders — dis asof die landskap se droogte hulle ook hard gemaak het en die swaarkry op hul gesigte gesien kan word.

Die kinders se gelag is die enigste ligte vermaak waarna uitgesien kan word, terwyl die grootmense met ’n dop in die hand terugkyk na beter dae.

Die enigste mense wat gelukkig is in die Karoo, is dié wat nie boer nie, of stadsjapies wat aan die gejaag en gewoel van hul alledaagse lewe wil ontsnap.

Maar, wanneer hulle terugkruip na hul onderskeie gate, los hulle die doodse stilte agter en sug ook met verligting dat hulle nie permanent hiér in die niksheid hoef te bly nie.

Een van die Karoo-mense se gunstelingtydverdrywe is om diep in die bottel te staar.

Dáár vind hulle die antwoorde op hul probleme terwyl die laaste paar sente van hul staatstoelae nóg ’n laaste bottel Lion-bier koop.

Wanneer daardie bottel leeg is, en die realiteit inskop, is daar behoorlike huismoles wat bydra tot die land se hoë syfers vir geslagsgebaseerde geweld.

Die Karoo-mense is immers nie net een ding nie, en gewis nie net sleg nie.

Hulle is ook goedhartig en skroom nie weg om hul medemens te help soos stadsjapies soms doen nie.

Bel maar gerus vir Oom Danie of Tannie Bettie in die vroeë oggendure, en hulle sal deur dik sneeu ry om jou by te staan.

Gaan roep vir Niklaas of sy vrou, Cornelia, in die werkershuisie op die plaas, en hulle sal sonder om te skroom hul laaste sente uithaal om jou op die dorp te kry.

Die niksheid laat mense saamstaan, ongeag hul kultuur, taal, ras of identiteit.

Mense sê die Karoo is ’n plek wat God vergeet het om lief te hê.

Dit is immers als relatief tot waar iemand hulself op ’n gegewe tydstip bevind.

In die Karoo kan jy jouself vind óf verloor.

Die niksheid kan óf helend óf ’n vloek wees.

Die droogte kan óf mooi óf ’n doodsvonnis wees, en die reuk van die aarde kan óf dien as ’n soort parfuum, óf dit kan groot ellende bring.

Een ding bly immers onveranderd: Karoo-skaaptjoppies is die lekkerste in die land.

You need to be Logged In to leave a comment.