Daar is ’n taal wat ons almal ken, maar geen naam voor het nie – net die weet dat jy weet, dat jy wéét.
Mense verstaan mekaar oor grense, tale, kultuur, tradisies en gewoontes deur. Dit word gebesig sonder woord of klank.
Wanneer jy in ’n winkelsentrum sit en jy kyk na die mense om jou – jy sien hulle uit ’n winkel kom, klaarblyklik gelukkig met hul aankope, of soms nie. Ouma’s en oupa’s met kleinkinders se taal straal uit hulle uit soos ’n helder lig. Verliefdes sien nie eintlik iets anders raak behalwe hul maat nie.
Ou getroudes se taal verskil en jy wonder of die jong verliefdes se taal oor tyd sal verander. Dié wat met selfvertroue stap en die skaam stappie se taal eien jy. Die vinnige stappers se taal is maar skrapserig terwyl dié wat wylend stap, die indruk skep van ’n deurdagte taal.
Al ooit ’n kat dopgehou? Sy sit hoogwaardig met haar rug na jou gekeer. Verklaar jou – van nie veel belang nie. Jy vermurwe as sy omdraai en haar nat neus teen jou neus kom druk, haar sagte lyf om jou hand draai en haar oorgee aan die gedeelde behoefte van aanraking en aanvaarding. Sy spin dat haar liggaam liggies onder jou vingerpunt bewe, en dis ’n aangename gevoel. Uiteindelik strek sy haar langs jou uit en jy ontvang dankbaar die kalmte en innerlike vrede wat daarmee gepaard gaan. Hierdie taal dra jy in jou hart saam en maak nie saak in watter land jy kom nie – katte gaan jou verstaan en jy vir hulle.
Die straathond wat bang op ’n hopie sit wanneer jy naderkom; onseker oor jou bedoelings. Jy gaan sit maar langs hom. Soms, wanneer ’n mens bang is of alleen voel, is dit sielsvertroostend om iemand te hê wat net saam met jou sit; elk met sy eie gedagte en tóg slegs een gedagte; iemand wat niks van jou vra nie; iemand wat vir ’n oomblik in tyd, in dieselfde ruimte, saam met jou asem haal – elkeen met sy eie pyn, vertroue verraai deur mense wat gesê het hulle is lief vir jou. Berusting in die eenheid vind plaas sonder aanraking, sonder woorde, sonder klank. Slegs die bewustheid van “nou” praat die hardste.
Hoe beskryf ’n mens in woorde die sentiment van die tannie en oom (redelik gevorderd in ouderdom) wat tydens Covid-19 geskei is, en toe ná ’n lang tydperk weer herenig is? Jy weet net jy is saam met hulle bly. Dit is soos wanneer allerliefste sy murg vir my gee.
Mense by die lughawe se liggaamstaal skree, maar hul lippe is gesluit. Hoewel die waarneem van mense se taal verkwikkend kan wees, bly dit ook uitmergelend. Die gade slaan van emosie laat jou kwesbaar kortasem en dit rem aan jou siel.
Mens en huisdiere wat in rampe van huise se dakke gered word. Jy wat dit gade slaan, lééf elke oomblik saam met die poging. Woorde is nie nodig om dankbaarheid te beskryf nie, of dit ’n swaaiende stert of ’n krampagtige vasklou van hande is.
Hierdie taal bly vir ewig gesproke in lyftaal, emosie en optrede. Hoe ontvanklik ander vir hierdie taal is, hang af van hoe volwasse hulle emosioneel is om hulself toe te laat om die waarheid te verstaan en nie net te interpreteer nie.
Ag jouself gelukkig as jy nie verstaan hoekom mense so lank treur oor hul geliefdes wat nie meer met hulle is nie. So baie word jou gespaar. Trane oes trane. Dit verenig die seer van vreemdelinge. Rou krete van ’n gebrokene word ’n taal gepraat in smart. Dis universeel. Jy erken dit op die gesigte van mense op televisie, in foto’s, tydskrifte, straatmense en kinders. Miskien is dit goed dat daar nie woorde vir hierdie taal is nie, dat gevoel jou uitkoms word, jou bewende hart, jou redding.
Die taal kan slegs waargeneem word in die oomblik. Niemand kan dit aan jou oorvertel nie – jy moet dit beleef. Op grond van hoe iemand optree, vorm jy onbewustelik ’n mening oor so iemand. Jou optrede teenoor so iemand nadat jou mening gevorm is, sou jy met so iemand praat, is nie so eg as gevolg van jou waarneming nie. Omdat daar geen manier is wat jy kan weet of dit wat jy dink jy weet, waar is nie, word onskuldige mense soms seergemaak.
Mense kyk ook na jóú en lees jou taal, daarom is dit belangrik om waaksaam te wees en jou innerlike, oorspronklike self te ontdek sodat die taal wat jy praat, gunstig kan wees vir die waarnemer. Sodoende word jou optrede, vanuit jou binneste, ’n stroompie water waarvan almal wil drink.
Stilte is die taal waarin God praat. Vind dit en ontgin die rykdom van Sy genade.