Ná ’n nat winter is die Boland se somer amper in volle swang, wat beteken dat die moontlikheid van veldbrande ook verhoog.
Volgens Anesca Roodt, ’n woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), is 71 brande sedert 1 Augustus 2024 tot nou aangemeld, wat insluit “bos, gras en rommel”.
“ ’n Paar voorvalle het die potensiaal gehad om bergbrande te word, maar as gevolg van vinnige ontplooiing is alles teen die hange ingekam,” sê Roodt.
Die begroting wat die KWDM opsy gesit het vir brandbestryding vir die 2024-’25-boekjaar beloop net meer as R72 miljoen teenoor die vorige jaar se R74 miljoen.
“Ons [Die KWDM se] finansiële jaar loop van Julie 2024 tot Junie 2025,” sê Roodt.
Daar is verskeie redes vir veldbrande, wat insluit mensgemaakte of natuurlike brande, volgens ’n persverklaring van CapeNature.
Nietemin, een oorsaak waaroor die Paarl Post reeds berig het, sluit in dié van godsdienstige praktyke wat in bergagtige gebiede in en om die Paarl beoefen word.
Volgens die artikel wat op 1 Desember 2023 aanlyn verskyn het, sluit die praktyke in om kerse of ander voorwerpe op ’n sekere plekke, wat veld- of bergbrande kan aanhits, aan die brand gesteek.
Dit is onduidelik hoeveel van vanjaar se brande deur dié soort godsdienstige praktyke veroorsaak is.
“Ons kon nie presies bepaal hoeveel van die aangemelde brande weens godsdienstige groepe plaasgevind het nie,” sê Roodt.
“Ons versoek dat mense net vure maak waar braaigeriewe beskikbaar is en altyd seker maak dat die vuur heeltemal geblus is voordat hulle aanbeweeg. Ook moedig ons mense aan om nie op baie warm dae te braai nie.
CapeNature sê hy het van April 2023 tot Maart 2024 op 89 veldbrande oor ’n gebied van ongeveer 73 671 hektaar gereageer.”
“Altesaam 55% van hierdie brande is deur mense gestig, hetsy deur nalatigheid of opsetlik (braai- en warmbrande, vuurwerke, nalatige en opsetlike brandstigting), 12% is deur meganiese middele gestig (masjinerie, swaarvoertuie, motors, treine, sweiswerk, wapens, borselsnyers, kraglyne) en 10% deur brandoptredes soos blokbrande, stapelbrande en brandbane. Natuurlike brande het 14% tot die syfer bygedra, met 9% onbekend of vermoedelik bestaande brande wat in bedwang was, maar opgevlam het,” sê CapeNature.
- Kontak KWDM by 021 887 6664 om brande aan te meld.