Hy is gebore voordat die geslag van ’n ongebore baba bepaal kon word en abnormaliteite waarneembaar was. Destyds het die meeste plattelandse dorpies ’n dokter, asook ’n hospitaal met bekwame personeel, gehad. Hulle het wonderwerke gedoen en was bekend met elkeen se pyne en sorge.
Spesialiste was amperse gode in verre stede en onbereikbaar vir die meerderheid in die afgeleë gebiede. Party was wel bevoorreg en kon hul hopelose siekes of gestremde kindjie na die kundiges neem met die hoop op genesing.
Vandag, meer as vyftig jaar later, weet ek nie of die reaksie en optrede van die familie anders sou wees indien hulle vooraf van sy gestemdheid sou weet as toe hulle eers weke ná sy geboorte daarmee gekonfronteer is nie.
Sy koms was vir ons die kroon op die huweliksverbintenis van Dries se geliefde oujongkêrel-neef en sy jong vrou. Toe ek hom op drie maande sien, het die babatjie onmiddellik vir homself ’n kleim in my hart afgesteek, wat hy vandag nog besit. Die dag kierang my toe, want in ’n alleen-oomblik met sy ma sê sy: “Daar’s iets verkeerd met my kind.” My vinnige tong het vasgehaak en my vlytige gedagtes het gestol. Tot vandag verstaan ek nie dat niemand buiten sy dit kon raaksien nie. My jammer vir haar was intens, want soos ek, was sy ook nie die gekose skoondogter nie en ek het geweet smart wag haar in.
Ek was reeds deur een van die skoonfamilie ’n Aangenaaide Lap genoem met die duidelike boodskap: “Oor ons familie sê jy niks tensy dit ’n lofsang of pryslied is nie.”
Ek het ge-niks.
Ons twee was baie bewus van ons nul-status. Dit was een van die boustene van die hegte verhouding wat ons tot die einde gehad het. Dit was in dieselfde hospitaal waar hy gebore is en ons toe ook alleen was. Haar laaste woorde was: “Dis goed so, maar ek is bekommerd oor hom.”
Hy was toe vyf-en-twintig.
Ek was jare lank toeskouer van ’n familiedrama wat alle sepies in gekheid oortref en waarin sy en haar gesin altyd aan die ontvangkant was. Die optrede van sommiges was hard in verwyte en vingerwysing, en bloedlyne is nagespeur om vas te stel in wie se bloed, wat ook in sy klein aartjies gevloei het, die afwyking is.
Gelukkig is daar in alles altyd die goeie ook, alhoewel fyn verweef in die slegte. Hulle kon bekostig om oral hulp te soek vir genesing vir die naamgenoot van die trotse oupa, en hul plase was naby aan mekaar.
Mettertyd het die grootouers hom egter permanent by hulle gevat en hy is gruwelik bederf. Die res van hul lewe was hy slegs ’n kuiergas in sy ouerhuis.
Die eerste ses jaar van sy lewe was ons huis die plek waarvandaan hulle spesialiste in Kaapstad en omgewing besoek het. Geld is nie ontsien nie, maar vasstel wat skort, kon niemand. Daar was baie teenstrydighede in sy ontwikkeling, want normale mylpale van sit, kruip, opstaan, loop, praat ens. is bereik, maar iets het gehaper.
Ná die eerste kwartaal in die hoofstroomskool het hulle hom Kimberley toe gevat; na Huis Jannie Brink vir intellektueel gestremde kindertjies. Kwalik sewe en 500 kilometer weg van sy mense en bekende omgewing.
Met liefdevolle versorging en kundige onderrig het hulle gepoog om hom maksimaal skolasties op te voed. Hy het ’n oulike en selfstandige seuntjie geword, maar kon ná drie jaar steeds nie lees en skryf nie, maar het ’n abnormale geheue van alles wat rondom hom gebeur gehad. Die skool het aanbeveel sy ouers moet hom na spesialiste in Bloemfontein neem.
Die diagnose was dieselfde as al die voriges asook die spesialis in Johannesburg, wat hul laaste hoop was. Hy het in Huis Jannie Brink aangebly en is op ses jaar oorgeplaas na Yonder, die sentrum vir volwasse gestremdes in Kimberley.
Hy is steeds deel van ons lewe en sy wel en wee is vir ons belangrik. Hy onthou alles van ons almal. Nou is nog net my gesin, sy jonger broer en suster – my Presentkind – van dié familie oor. Ons sien hom gereeld met sy jaarlikse kuier by Presentkind en in 1990 raak hy gekys en ons almal is so bly en dankbaar, want hulle lyk stralend op die foto’s wat ons kry.
Vanjaar, met sy vyftigste verjaarsdagviering, wat ’n behoorlike boerebraai was, loop hy oor van gesels oor haar en ons beplan ’n spoedige kuier van albei by ons. Niks van dit word toe waar nie, want sy sterf pynlik een oggend.
Hoe troos jy ’n vyftigjarige man met die verstandsouderdom van ’n sewejarige, wanneer hy die enigste rêrige vreugde in sy lewe verloor? Hy het die foto’s van hulle twee vir Presentkind gegee om te bêre, omdat hy hartseer word as hy daarna kyk, en ons praat nie weer oor haar nie.
Pynlik het ek my Vaderland verloor. Ek bêre ook die foto’s van die goeie tye, omdat ek ook hartseer word as ek daarna kyk.