My pa, ’n man van min woorde, het gesê mense gaan na afgeleë plekke om hulself te gaan vind, maar dit maak nie saak waarheen jy gaan nie; jou gedagtes gaan oral saam met jou.
My onlangse weggaan Boesmanland toe was nie om myself te vind nie. Ek is knus en tevrede in my vel en Hester en ek bly lekker in die huis op die bult.
Ek het verlang na my mense, die plaas en my geboortedorp. Daar waar dr. Van der Merwe gesorg het dat ek veilig die wêreld inkom. Ek het my eerste skree op ’n Guy Fawkes-Sondagoggend in 1944 op Calvinia gegee en die suiwer Hantamlug ingeasem. My kleinkinders sê dis hoekom ek eienaardig is en van skool gehou het, terwyl hulle dit haat.
Dus is niks toevallig nie en moes dokter Van der Merwe daar wees.
Sy was familie van my ma en die tweede vroulike dokter in Suid-Afrika. Sy is ná haar studies in Skotland met ’n prokureur, ’n Van Westhuizen, my pa se hartsvriend, getroud. Hy was vir álmal Wêên en sy Dokter Keit. Hulle was twee unieke persoonlikhede wie se lewe ingebed was in my wêreld waar beide hul professie beoefen het en later op hul plaas, Lekkerlê, afgetree het.
Al hierdie fraiingtjie-feite het bygedra dat my hart vir altyd aan daai wêreld vasgemaak is.
Jaarliks gryp ’n verlange my en dwing my, saggies, maar toegewyd, in die oorredingstaak totdat ek die baklei teen myself verloor. Teen daardie tyd is die meeste voorbereidings op die onthou-lysie hoeka klaar. Met my motor gediens, bande nagegaan en die datum vasgemaak, is my weggaan net ’n aankondiging vir my kinders en kleinkinders. Ek waardeer hul besorgdheid en vermoed almal het onmiddellik hul ondersteuningsnetwerke daarvan verwittig en voorbidding vir ma en ouma gevra. Teen daai tyd is my eie netwerk hoeka op aandag en alles ’n groot plesierigheid vir my.
Ek het verlang na die wye vlaktes wat snags rustig onder ’n hemelboog slaap, waar die sterre helderder skyn as hier waar hulle met kunsmatige nagtelike beligting meeding.
Daar het die môre- en nagsê van die son oor die lae rantjies ’n anderste kleurvermenging as hier. In die opkom en ondergaan is dit asof die son ’n rustiger gang het in die uitvoering van die taak waarvoor hy geskep is. Is ek nou skielik dankbaar dat daai mooi buite bereik is, want anders was dit ook al gesteel!
Op pad volg ek my pa se kar-ry-reëls, wat hy afgemete vir my uitgespel het nadat ek my lisensie gekry het: “Onthou, dis ’n mensgemaakte ding waarmee jy ry. Lees jou pad. Kyk in jou spieël. Kyk vir die ander een se part ook. ’n Padteken is vir ’n rede daar. Jy sit en dink nie aan allerhande goed nie. Hou jou aandag by dit waarmee jy besig is.”
En dan my eie een: “Beheer jou kar. Moenie dat jou kar jou beheer nie.”
Ek het maklik my gedagtes hier gelos. Ek het geen begeerte gehad om selfs ’n tienduisendste van ’n milligram van my breinmassa te gebruik om te dink aan die uiters suksesvolle regering waaronder ons land die afgelope 28 floreer nie. Sou ek dink aan die geweldige hoë hoogtes waartoe ons land gevoer is, waarvan die kruin dalk die hoogte van die hoogste molshopie in my tuin is, het ek net daar van die pad af gery. Ek is wel herinner aan die doeltreffendheid van die spoorweë en hawens en die magtige vervoerstelsel wat deur ons wêreldklasregering ontwikkel is omdat swaar voertuie van enige formaat en uit alle provinsies die verkeer gestrem het. Plek-plek wys die mooi en relatief nuwe pad reeds hoedat hierdie duisendpoot-wiel-goed die pad in sy peetjie trap; is ek ook gekonfronteer met die arrogansie van sekere padgebruikers, waardeur hulle nie net hul eie lewe nie, maar ook dié van ons ander, in gevaar stel. Dit het my opgeval hoeveel jongmense, en veral meisies, in vuurhoutjieboks-grootte karretjies die spoedperk oorskry en ’n lang ry voertuie op ’n dubbele sperstreep verbysteek. Dis angstige oomblikke vir ons ander wat die padreëls nakom.
My laaste stop op Calvinia, waar ook die laaste selfoonkontak met die buitewêreld is, was ’n vreugdetuiskoms vir my hart, maar ook ’n ontgogeling.
Die dorp is vuil; besighede stil. Die pronk-seunskoshuis is gevandaliseer. Die pragtige ou klip-poskantoor is gesluit en die vorige week was daar riool in die middedorp. Nog ’n hoera vir die ANC- beheerde munisipaliteite landwyd.
Daai het ek agtergelos en die 100 kilometer plaas toe lekker gery. Daar is die natuur ongeskonde en uitbundig ná die baie reën ná vier jaar se ononderbroke droogte. Die plaaskuier saam met my mense was, in Ouma Miemie se woorde, heerlik, lekker en nice.
Veilig terug en dankbaar oor die goeie rondom my, hoor ek die lawaai van die Zumas en diesulkes en gun hulle hul oomblik van glorie. Dit vat lank, maar skurke se einde is nooit ’n triomf nie.
,

