Charleston Hill-inwoners in Paarl-Oos maak kapsie teen die beplande oprigting van ’n telekommunikasietoring by hul plaaslike laerskool. Foto: Rasaad Adams


’n Groep inwoners wat bekend staan as die Charleston Hill-aksiegroep in Paarl-Oos het kapsie gemaak teen die beplande oprig van ’n telekommunikasietoring by die Charleston Hill Primêre Skool en beskuldig plaaslike owerhede daarvan dat dié gemeenskap nie geraadpleeg is oor die projek en die moontlike uitwerking daarvan nie.

Paarl Post verstaan dat daar glo bykans 10 jaar gelede reeds planne was om die toring op te rig, en dat die prinsipaal van die laerskool glo in April 2022 aan Eagle Towers SA die finale goedkeuring gegee het.

Die ooreenkoms is dat Eagle Towers SA ’n deel van die skoolterrein teen ’n onbekende bedrag huur.

Só het Fabian Plaatjies, ’n gemeenskapsleier en menseregteaktivis verbonde aan die Charleston Hill Aksiegroep, vandeesweek aan die koerant verduidelik.

Hy het sy teleurstelling teenoor die Drakenstein-munisipaliteit en skool uitgespreek omdat hulle nie die gemeenskap in die besluitnemingsproses geken het nie.

Die aksiegroep gaan eersdaags met die skoolbeheerliggaam vergader en het ook reeds hul griewe skriftelik aan die Drakenstein-munisipaliteit geopper.

“Daar is drie pertinente kwessies wat ons graag wil uitwys, waarvan die eerste een die feit is dat die onmiddellike gemeenskap rondom die skool geensins geraadpleeg is oor hierdie telekommunikasietoring nie.

“Ons kan nie ’n situasie hê waar hierdie groot maatskappye net hier inkom en maak soos hy wil nie. Dit is ons verantwoordelikheid om eienaarskap te neem van ons omgewing en ons moet geken word in sulke besluite wat inwoners direk raak.”

Volgens Plaatjies het die aksiegroep ’n kenner genader wat uitgewys het dat ’n telekommunikasietoring nie veronderstel is om in woonbuurte opgerig te wees nie.

“Daar is al verskeie studies gedoen wat bewys dat die elektromagnetiese radiofrekwensies wat deur sulke torings uitgestraal word, ’n uitwerking op mense se gesondheid het.

“Boonop is daar ook die kwessie van geraasbesoedeling. Dit lyk ook net nie mooi om so iets in ’n woonbuurt te hê nie,” het hy verduidelik.

Hy sê inwoners is verder ook bekommerd oor misdadigers en vandale wat na die gebied gelok gaan word.

“Daar is tans ’n groot mark vir kabeldiefstal en skroot. Om hierdie toring in ons gebied op te rig, sal net die verkeerde elemente lok.”

In die beplanningsdokument deur Eagle Towers SA, wat Paarl Post onder oë gehad het, hou die maatskappy egter vol dat sulke torings geen gesondheidsrisiko inhou nie.

“Huidige navorsing oor telekommunikasie-basisstasies het ’n punt bereik waar wetenskaplikes tevrede is dat sulke stasies nie ’n gesondheidsrisiko inhou nie.

“Navorsing oor handtoestelle, soos selfone, is egter steeds aan die gang, aangesien dit beskou word dat die hou van die handtoestel teen jou kop ’n groter gesondheidsrisiko kan inhou.

“Selfone is lae-krag-radiofrekwensie-senders. Hulle werk op frekwensies tussen 450 en 2 700 MHz. Die handtoestel stuur slegs krag uit wanneer dit aangeskakel is.

“Die gebruik van die telefoon in gebiede met goeie ontvangs verminder dus blootstelling omdat dit die telefoon toelaat om teen verminderde krag uit te saai,” lui die dokument.

Die maatskappy het ook benadruk “radiogolwe word uitgestraal deur talle instrumente, insluitend mikrogolfoonde en televisieskerms in ons huishoudings”.

Die Drakenstein-munisipaliteit het by navraag aan Paarl Post bevestig dat hy die aansoek van Eagle Towers SA vir die 25 m hoë toring en basisstasie ontvang het.

Volgens Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir korporatief en beplanningsdienste, is die projek tans in sy openbaredeelname- fase.

“Dit is behoorlik in die Paarl Post van 1 Augustus 2024 geadverteer, sowel as op die munisipaliteit se webwerf, en briewe is aan die omliggende eienaars gestuur vir die indiening van kommentaar of besware.

“Die beswaarperiode sluit op 31 Augustus.

“Die munisipaliteit het besware van individuele eiendomseienaars in die gebied ontvang, maar nie ’n petisielys van die Charleston Hill-gemeenskap nie.

“Alle besware sal deur ’n professionele geregistreerde stadsbeplanner geëvalueer word.”

You need to be Logged In to leave a comment.