Die bekende akademikus, opvoedkundige, taalaktivis en skrywer dr. Michael le Cordeur van Wellington, bereik hierdie week nog ’n mylpaal in sy loopbaan met die bekendstelling van sy nuwe boek: Ons kom van vêr op Vrydag 16 Desember, waarvan hy die inhoudsredakteur en sy goeie vriend prof. Wannie Carstens die taalredakteur was.
Le Cordeur het daarin geslaag om ’n omvattende boek saam te stel oor Bruinmense se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans in hul stryd teen apartheid. Hy slaag daarin om altesaam 35 skrywers en akademici te oortuig om onder sy leiding gestalte te gee aan ’n boek van 600 bladsye waaraan hy “die afgelope jaar dag en nag gewerk het en hom aansienlik ouer en gryser gemaak het”.
Le Cordeur vertel dat hy en sy goeie vriend Wannie Carstens wou die storie van Afrikaans meer volledig vertel as wat tot dusver die geval was. Dit was problematies want die storie van Afrikaans het in die verlede meestal gefokus op die taal se wit geskiedenis terwyl die taal se bruin en swart geskiedenis misken is.
“Met hierdie boek wou ons die situasie regstel deur aan te toon dat bruin mense se verbintenis met Afrikaans inderdaad van vêr af kom.”
In die proses word nie net bruin mense se bydrae tot die totstandkoming van Afrikaans geboekstaaf nie, maar die skrywers wys telkens met trots uit dat die bruin gemeenskap dikwels aan die voorpunt gestaan het in die stryd teen apartheid – en hulle het dit boonop trots in Afrikaans gedoen.
Skrywers van Wellington wat ook saam skryf in die boek is dr. Jacques Beukes, die jeugpredikant, Herman Bailey die oudburgemeester, Marlene le Roux die hoof van KunsteKaap, dr. Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel (moderator van die VGK), Patrick Mettler en Le Cordeur se suster en voormalige Mej. Rapport, Edwena Goff.
Beukes skryf ’n boeiende hoofstuk oor die Belhar Belydenis (wat terloops sy studieveld is) terwyl Bailey sy termyn as burgemeester in die moeilike oorgangsjare na ’n demokratiese Suid-Afrika verwoord.
Edwena onthul vir die eerste keer hoe moeilik dit was vir ’n bruin skoonheidskoningin in die ou Suid-Afrika omdat hule anders as die wit Mej. Suid-Afrika, nie dieselfde voorregte geniet het nie en eerder op gemeenskapswerk moes fokus. Le Roux skryf oor die rol van kuns en kultuur in die bruin gemeenskap en Mettler oor bruin identiteit.
Dr. le Cordeur self skryf vyf hoofstukke, onder meer oor die geskiedenis van die Wellingtonse klopse, die 100-jarige bestaan van die Wellingtonse Krisante-vereniging, bruinmense se bydrae tot hul eie taal en die rol van bruinmense in die 100-jarige bestaan van die Afrikaanse media.
Ander bekende skrywers sluit in Small se weduwee, Rosalie, Nico Koopman, Christo van der Rheede, Danny Titus, Fatima Allie, Conrad Sidego, Henry Jeffries, Elias P. Nel, Cornelius Thomas, Willem Fransman, Danie van Wyk en vele meer.
“Ons het besluit om die boek aan Adam Small op te dra omdat hy ook ’n Wellingtonner is.
Op die flapteks skryf ek as volg: As akademikus, digter en dramaturg was Adam Small ’n stem vir die stemloses: het hy die brandende vraagstukke van ‘n verdeelde Suid-Afrika op deurdagte dog onverskrokke wyse aangeroer. Sy invloed op die denke van sy mense is sigbaar in elke hoofstuk en elke tema in hierdie boek.
Deur hierdie boek aan Adam Small op te dra en dit op Versoeningsdag bekend te stel, gee gepaste erkenning aan ’n man wat lank in sy land misken is terwyl hy eintlik sy tyd vêr vooruit was.
Ons kom van vêr word Vrydag om 15:00 bekendgestel deur die by KunsteKaap en word voorafgegaan met ’n vertoning van Adam Small se drama Joanie Galant-hulle. Die boek word ook vroeg in 2017 in Wellington bekend gestel.