Diabetes is ’n lewensgevaarlike siekte wat elke jaar wêreldwyd 1,5 miljoen mense se lewe eis, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). November is diabetesbewusmakingsmaand en Wêreld Diabetes-dag word op 14 November gevier. Hoewel daar ’n oortuiging is dat slegs ouer mense aan diabetes ly, is daar baie jong kinders wat elke dag met dié siekte saamleef.
Die sesjarige Zyle-Mark September van die Paarl se lewe het twee jaar gelede oornag verander toe hy nie lekker gevoel het nie en in ’n koma verval het. Sy ma, Monique September, vertel dat haar seun op 13 Julie 2020 baie siek gevoel het en sy het hom dokter toe geneem, want sy het self nie geweet wat hy makeer nie. Die dokter kon ook niks fout vind met hom nie. Tydens hul doktersbesoek het Zyle-Mark, wat toe vier jaar oud was, in ’n koma verval en hulle het dadelik met hom na Paarl-hospitaal gejaag.
“Toe ons daar kom, was Zyle-Mark heeltemal uit. Hulle het nie meer hoop vir hom gehad nie, want hy was koud en aan die sterwe. Die dokters en mediese personeel het almal om ons kom staan en vir my gesê dit sal ’n wonderwerk wees as die kind weer wakker skrik. Ek verstaan toe nie wat eintlik aan die gebeur is nie, want een van die verpleegsters voor by ongevalle wys vir my die suikertelling op die masjien en daar staan high. En nog steeds verstaan ek nie.”
‘Die dokter het nie woorde’
“Ek was so confused, want dit het die Maandagaand gebeur en die Sondagaand het my ouma afgesterf. Alles het so agtermekaar gebeur. Hy was siek vanaf my ouma se sterfte en die Maandag het hy net erger geword. Uiteindelik het die dokter na my toe gekom en gesê hy het nie eintlik woorde nie, maar my kind is gediagnoseer as ’n tipe 1-diabeet. Hulle was nog nie heeltemal seker oor sy diagnose nie en ons moes na Tygerberg-hospitaal gaan, maar eers wanneer hy by sy volle bewussyn is.”
Klein Zyle-Mark se suikervlakke het toe stadig begin afneem en hy het weer bygekom. Dokters het hom eers vir ’n tydjie gemonitor voordat hy die Dinsdagoggend omstreeks 02:00 per ambulans na Tygerberg-hospitaal geneem is. Met hul aankoms was Zyle-Mark baie beter en dit was nie meer nodig om in die hoësorgeenheid opgeneem te word nie. Hy is toegelaat in ’n gewone saal vir diabete.
“Die verpleegsters en dokters het toe vir my verduidelik wat tipe 1-diabetes is en dat sy pankreas nie genoeg insulien maak nie en dat hy nie gesond sal word nie. Dit is ’n lewenslange siekte en dat hy insulien vir die res van sy lewe sal moet kry.”
Ná haar seun se diagnose het dit vir Monique duidelik geword dat hy diabetes-simptome gehad het nog voordat hy so ernstig siek geword het. Sy het net nie geweet dat dit simptome is van dié chroniese siekte nie.
“Hy was baie dors die week voordat hy gediagnoseer is en dan het hy verskriklik baie geürineer ook. Vir my was dit nie iets om oor bekommerd te wees nie, want soos ek hom ken, is hy baie lief vir water drink. Tog kon ek nie verstaan hoekom hy meer as gewoonlik baie water drink nie.”
Elke dag ’n uitdaging
“Een nag het hy die bed natgemaak en toe ek hom daaroor vra, het hy dit ontken. Die volgende aand het dit weer gebeur. Hy het ook ’n seertjie op sy vinger gehad en dit wou net nie gesond word nie. Ek het hom dokter toe geneem vir die seertjie en die dokter het gesê dit is niks om oor bekommerd te wees nie. Bloedtoetse is gedoen en die uitslae het gewys daar is niks fout nie. Die volgende week was dit mos dat hy verskriklik siek geword het.”
Volgens Monique is elke dag ’n uitdaging en ’n gesukkel met óf hoë óf lae suikervlakke. Sy sê hulle probeer gesond eet, maar haar seun verstaan nie altyd hoekom hy anders as ander kinders is nie. Sommige dae voel hy hoekom moet hy ingespuit word of hoekom kan hy nie altyd eet wat hy wil eet nie. Klein Zyle-Mark, wat in gr. R is by Ebenezer Primêr, moet vier keer per dag ingespuit word met insulien. Hy hoef gelukkig nie ingespuit te word wanneer hy by die skool is nie, maar sy onderwyser Shakeela Bruintjies help hom om sy suikervlakke te toets en te monitor.
Nie ’n maklike pad
Monique sê sy wens sy het vroeër geweet dat diabetes ook by kinders gediagnoseer kan word.
“As ek geweet het ek moes verder gekyk het na die baie water drink en elke keer se urinering, dan sou ek. Die goed is nie maklik om te hanteer nie. Dit is nie almal wat ’n pad saam met so ’n kind kan stap nie, want dit raak verskriklik erg. Daar is tye wat die kind suikeraanvalle kry voor skooltyd of selfs in die vroeë oggendure.”
Hier is ’n paar vinnige feite oor diabetes (Hart-en-beroerte-stigting SA en WGO):
- Daar is drie hooftipes diabetes: tipe 1 (insulienafhanklik; word gewoonlik in jonger mense gediagnoseer); tipe 2 (geneig om geleidelik by volwassenes te ontwikkel as gevolg van die liggaam se ondoeltreffendheid om insulien te gebruik); en swangerskapsdiabetes (kom voor tydens swangerskap).
- Ongeveer 1 uit 10 Suid-Afrikaners het diabetes, maar ongeveer 1 uit 2 van die mense weet dit nie omdat hulle nie gediagnoseer is nie.
- Diabetes kan lei tot niersiekte, hartsiekte, senuweeskade en oogskade; en
- Die aantal mense met diabetes wêreldwyd het van 108 miljoen in 1980 tot 422 miljoen in 2014 gestyg.


