Desiree Versnel (89) is nie net ’n Paarliet in murg en been nie, maar ook een van die Paarl se mees formidabele vroue wat wyd en syd bekend is as een van die Boland se beste landskapontwerpers.

Desiree kom uit Somerset-Oos in die Oos-Kaap.

Sy en haar man, Ronald Versnel, het hulle in die 1970’s in Dal Josafat in die Paarl gevestig toe hulle die plaas Dalrivier gekoop het.

Daar is haar liefde vir die buitelug vergroot toe sy met vrugte en groente, onder meer koejawels, appelkose en tamaties, geboer het.

Buiten dié van ’n geharde vrugteboer, het Desiree ook ’n ander skoen gedra – dié van ’n landskapontwerper.

Sy het ’n passie vir tuinmaak gehad en dit uiteindelik in ’n suksesvolle onderneming omgeskep toe sy van die Boland se bekendste tuine ontwerp het.

Die lewe is lekker.
Desiree Versnel

Dít is ook waarvoor sy – volgens haar dogter, Karen Versnel – die meeste bekendheid verwerf het.

Desiree en haar man het hul plaas in 1980 verkoop, waarna hulle in die dorp gaan woon het sodat sy haar droom as ’n landskapontwerper verder kon ontwikkel.

Intussen het sy ’n graad en verskeie diplomas in onder meer landboukunde en landskapontwerp voltooi, asook ’n kurses oor boomvariante by ’n universiteit in Nederland.

In daardie jare was dit nie algemeen vir vroue om voltyds te werk nie. Die Paarl se klein boeregemeenskap het hulle egter oor Desiree ontferm.

“Die mans se gesindheid teenoor my was goed,” sê Desiree, terwyl Karen tergend byvoeg dat dit seker was omdat haar ma “baie mooi” was.

Desiree sê sy was nie baie lief vir kosmaak nie, maar het dikwels ’n groot pot sop gemaak en al die nabye boere vir middagete genooi, wat goeie verhoudinge geskep het.

“My ma se leuse vir haar tuine was massa en ruimte,” sê Karen.

“Daar moes baie plante wees wat ruimte geskep het.”

Desiriee Versnel (89) saam met haar dogter (Karen Versnel) en seun (Henk Versnel).

Desiree het ’n hand in die tuine op van die Boland se mees bekendste toerismebestemmings.

Dit sluit in die wynplase Fairview en Rheebokskloof in die Drakenstein, asook Haute Cabrière, Plaisir de Merle en Boschendal buite Franschhoek.

Een van haar gunstelingtuine om te ontwerp was die Laborie-wynlandgoed in die hartjie van die Paarl.

Buiten ’n suksesvolle boervrou en landskapontwerper, het Desiree ook drie kinders grootgemaak – Karen, Henk Versnel en Magda Dercksen.

Vandag is Desiree ook die ouma van agt kleinkinders en altesaam 11 agterkleinkinders.

My ma was mal oor werk en het als wat sy gedoen het, met entoesiasme aangepak.
Karen Versnel

“My ma was mal oor werk en het als wat sy gedoen het, met entoesiasme aangepak,” sê Karen.

Nóg ’n geheim tot Desiree se lang en gelukkige lewe is om “elke aand een glas droë witwyn te drink”.

“My ma drink tot vandag toe geen pille nie – net ’n glasie wyn, en sy is baie gesond,” vertel Karen.

Sy voeg by dat haar ma ook ietwat hardkoppig is, maar dat hierdie eienskap haar ver gebring het omdat sy nie net “alles aanvaar het nie” en “deursettingsvermoë” gehad het.

Een van Desiree se handelsmerke is die ou bakkie met ’n halwe kappie waarmee sy tot op haar aftrede op 87 gery het.

“Die kappie was in die helfte gesny om skuiling te bied vir haar werksmense wanneer sy hulle vervoer, maar om ook plek te maak vir die bome wat sy moes rond ry,” vertel Karen met ’n glimlag.

Met dié bakkie is Desiree Paarlberg op en af om bome (met toestemming) op die berg te gaan uithaal, wat sy in tuine herplant het.

“Ek het my ma eendag agtervolg toe ek haar in die dorp sien ry het om seker te maak dat sy nog mooi kan bestuur omdat sy toe nie meer so jonk was nie,” vertel Karen.

“Sy het mooi om die sirkel gegaan, maar toe by die stop naby die hospitaal met ’n spoed weggetrek en al die pad gery tot op ’n pad naby die Paarlberg sonder om te stop.

Ek het toe gedink ek sal my ma bel om te sê ek is agter haar, maar toe sy die foon optel het sy gesê: ‘Wag baby, ek kan nie nou praat nie, iemand agtervolg my!
Karen Versnel

“Ek het toe gedink ek sal my ma bel om te sê ek is agter haar, maar toe sy die foon optel het sy gesê: ‘Wag baby, ek kan nie nou praat nie, iemand agtervolg my!’ ”

Vandag woon Desiree in die Oude Renbaan-aftreeoord in die Paarl, waar sy 89 jaar jonk is en met vreugde terugkyk na haar lewe.

“Die lewe is lekker,” sê Desiree.

Haar raad vir jonger vroue wat ook hul merk wil maak, is om hard te werk en “gedissiplineerd en entoesiasties te wees” met alles wat hulle in die lewe aanpak.

You need to be Logged In to leave a comment.