Die Daljosafat-verkeerssentrum is Dinsdag gesluit nadat meer as R40 000 in ’n gewapende rooftog gebuit is.Foto:


Die gehalte van beveiliging by die Daljosafat-verkeerssentrum in Jan van Riebeeck-rylaan lok groot kritiek nadat drie gewapende rowers Dinsdag met sowat R40 000 en transitowagte se wapens gevlug het.

’n Ooggetuie wat die rooftog in die wagkamer van die toetssentrum aanskou het, sê die rowers het hulle as klante, wat in die motorlisensie-ry tougestaan het, voorgedoen.

“Ek het geen onraad vermoed nie. Nadat die een wag reeds die geldsak in die agterste kantoor ontvang het, het twee van die verdagtes uit die bloute die wag oorweldig, teen die grond vasgedruk en sy wapen afgevat.”

Volgens haar is dit die nuutste van vele rooftogte wat op die terrein van die sentrum plaasvind.

“Daar is te min veiligheidswagte op die perseel. Vorige voorvalle behels sakkerollers en minder ernstige gevalle as dié van gister,” het sy Woensdag aan Paarl Post vertel.

AO Nceba Vanqa, ’n woordvoerder van die Mbekweni-polisie, was op die toneel en het die voorval bevestig.

“Drie verdagtes was met maskers vermom toe hulle hul as klante voorgedoen het. Hulle het met R43 240 en die transitowagte se wapens van die toneel af gevlug. Geen beserings is tydens die rooftog aangemeld nie.”

Die Drakenstein-munisipaliteit het Dinsdagaand ’n verklaring uitgereik waarin aangekondig is die sentrum sou Woensdag gesluit wees.

“Die Daljosafat-verkeerssentrum sal môre gesluit wees op versoek van die polisie om forensiese toetse ná die gewapende rooftog binne die sentrum, uit te voer.

“Dit volg nadat [drie rowers] met sowat R40 000 sowel as die wagte se vuurwapens van die toneel af gevlug het. Die rowers se voertuig is daarna in Mbekweni opgespoor,” lui die verklaring.

Die munisipaliteit sê die polisie en senior amptenare was vinnig op die toneel om die skade te bepaal nadat personeel die panieksein in die sentrum geaktiveer het terwyl die verdagtes steeds besig was om die rooftog uit te voer.

Terwyl die Daljosafat-verkeerssentrum tot verdere kennisgewing gesluit is, beveel die munisipaliteit klante aan om van die verkeer-toetssentrum in Wellington gebruik te maak, wat weeksdae van 08:00 tot 15:30 oop is.. Lesers kan die munisipaliteit by 080 131 3553 vir enige verdere inligting skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.