Hierdie jaar is my laaste derby as prinsipaal van Bergrivier Sekondêr. Ek wil ons Hemelse Vader al die eer gee vir die sporttalent wat hy aan ons leerders gegee het. Ek weet dat die deelnemers van Bergrivier Sekondêr hierdie jaar ’n goeie aftree- geskenk aan my sal gee.

Ek was bevoorreg om betrokke te wees by die begin van die huidige formaat van die derby.

Elke jaar is die derby ‘n geleentheid vir BR en WT se leerders om hul sporttalent ten toon te stel.

Vir my gaan die derby oor deelname en sportmangees. Die wenmotief is sekondêr. Ons twee skole is geseënd met wonderlike en goeie sportmanne en -vroue. Daar is nie iets soos gunstelinge vir die verskillende wedstryde nie, want elke wedstryd is soos ’n eindstryd.

Dit is my wens dat hierdie jaar se derby weer ’n uitstekende tentoonstelling van sporttalent vir ons gemeenskap sal wees. Dankie aan al die opvoeders en afrigters wat uit hul pad gaan om die deelnemers vir die grootste sportgebeurtenis in Wellington voor te berei. Ek wil graag die gemeenskap vra om ons derby goed te ondersteun omdat die derby ook ’n geldinsamelingsbyeenkoms is. Die geld wat met die derby geïn word, word weer vir die bevordering van u kinders se akademie en sport aangewend.

Ek hoop hierdie jaar se derby sal sonder voorval wees en elke leerder van die twee skole sal besef hulle is ambassadeurs van hul skool en moet die naam van hul skool hoog hou.

Ons het mekaar nodig. Ons ondervind dieselfde uitdagings; daarom wil ek die gemeenskap vra om eienaarskap van ons skole te neem en nie ons skole te plunder en te vandaliseer nie.

Ek vertrou die derby tussen die twee skole sal lank nog ’n jaarlikse instelling bly en die gemeenskap sal dit al hoe meer ondersteun en die bande tussen die opvoeders en leerders al hegter en onskeibaar sal word.

Mag die beste skool 2024 se derby wen en mag die verloor-skool die verloor soos ’n man vat en volgende jaar weer probeer.

Baie dankie

Anthony Cavernelis

Prinsipaal

You need to be Logged In to leave a comment.