Hoe weet ’n mens wanneer die woorde “ek wil nie meer lewe nie!” uit jou kind se mond rede tot kommer of net tipiese tienergedrag is? Kinders so jonk as ses spreek soms selfdoodgedagtes uit. Maar beteken dit jou kind gaan nou tot die daad oorgaan? Is jou kind werklik depressief? Of is sy optrede bloot ’n soeke na hulp? Dui die gereelde klagtes oor maag- of hoofpyn op werklike ongesteldheid of siekte, of is dit psigosomatiese simptome gekoppel aan depressie? En wat is die moontlike oorsake dat jou kind aan depressie ly?
Hoe behandel ’n mens dit?
Statistieke deur die SA Depressie- en Angsgroep skets ’n somber prentjie, want daarvolgens is 9% sterftes onder tieners weens selfdood. Volgens die sielkundige Dalene du Plessis het “kinders so jonk as sewe jaar al hul eie lewe geneem”. So ook toon van die jongste navorsing in Amerika dat kinders tussen 10 en 12 se selfdoodpogings sedert 2000 tot 2020 meer as vervierdubbel het.
Afrikaans.com het ’n bietjie dieper gedelf en die volgende belangrike inligting opgesom:
Moontlike oorsake van depressie:
. Depressie is dikwels oorerflik;
. Dit word veroorsaak deur ’n chemiese wanbalans in die brein;
. Dit is ’n reaksie op trauma;
. Druk van ouers, onderwysers, medeleerders om te presteer is ’n faktor;
. Gebrek aan ondersteuning van ouers;
. Omgewingsfaktore, soos stres, spanning by die huis, verlies (van ’n troeteldier of geliefde familielid of ’n beste maatjie wat wegtrek), ouers wat skei, die tiener word afgesê;
. Kind word geboelie;
. Sukkel om aan te pas en raak dan depressief;
. Leer- en leesprobleme kan tot depressie lei, want die kind kom agter hy presteer nie so goed soos sy maats nie; en
. Kinders wat sukkel met ander geestesgesondheidskwessies, soos aandaggebrek-hiperaktiwiteit, is soms meer vatbaar vir depressie.
Waarop om te let
Verandering in gedrag:
. Jou kind kla gereeld oor hoof- of maagpyn en dit word nie juis beter met behandeling nie. Dit kan dus psigosomaties wees. Onthou egter: die pyn is werklik – die oorsaak is net nie altyd iets fisiek nie;
. Jou kind is uiters geïrriteerd, kry woedebuie en tree aggressief op;
. Jou kind kan homself nie dereguleer nie, m.a.w. hy kan nie sy emosies reguleer nie. Hy/sy kan byvoorbeeld nie ophou huil nie, gooi goed rond, slaan goed, skree op ander, is oordrewe hartseer, ens;
. Jou kind onttrek, wil nie meer uitgaan en sosialiseer nie en is dikwels huilerig;
. Slaappatrone word geraak – slaap baie of ongereeld;
. Eetprobleme – eet te min of te veel;
. Skoolwerk gaan agteruit;
. Luister na onderwysers – hulle sien dalk iets raak wat nie by die huis merkbaar is nie; en
. Jou kind se selfbeeld is nie na wense nie – hy/sy maak negatiewe aanmerkings oor hom-/haarself.
Hoe behandel of hanteer ’n mens depressie by jou kind of tiener?
. Ouers en onderwysers moet bedag wees op die kind se emosionele welstand en dadelik optree as hulle vermoed alles is nie pluis nie. Kinders is geneig om soms uitlatings te maak soos “ek wil nie langer leef nie!”, maar dit beteken nie noodwendig hulle oorweeg selfdood nie. As jy egter enigsins twyfel, raadpleeg ’n sielkundige;
. Oorweeg psigoterapie (praat-terapie) in gesinsverband, maar ook afsonderlik. Dit is moeilik vir veral jong kinders om hul gevoelens in woorde uit te druk en daarom is die bystand en kundigheid van ’n terapeut van onskatbare waarde;
. As jou kind gediagnoseer is, stel die skool/onderwysers in kennis sodat hulle met empatie by die skool hanteer word;
. Kommunikeer en luister. Jou kind moet die vrymoedigheid hê om oor enigiets met jou te gesels. Dit is noodsaaklik om nie veroordelend te wees nie en van jongs af geleenthede te skep om te gesels;
. Gee erkenning aan jou kind se emosies. Dit is nie sommer net kinder- of tienertwak nie;
. Waak teen skuldgevoelens. Jou kind kan maklik skuldig voel oor sy toestand en dit kan lei tot dieper depressie. Moet dus nie druk op die kind sit nie;
. As daar konflik by die huis is, tree onmiddellik op en kry oplossings;
. Onvoorwaardelike liefde en ondersteuning is uiters noodsaaklik;
. Stel steeds duidelike grense. Kinders wat binne grense moet optree, voel veiliger, want hulle weet wat om te verwag as hulle nie by hierdie reëls hou nie;
. Maak seker die terapeut en jou kind vind aanklank by mekaar. As die kind nie met die terapeut/sielkundige klaarkom nie of gemaklik voel nie, moet jy onmiddellik iemand anders kry, want die vertrouensverhouding tussen die pasiënt en die terapeut is belangrik; en
. Gereelde ontspanning en oefening. Moedig jou kind aan om stokperdjies te beoefen en oefening te doen. Goedvoelhormone doen wondere.
Medikasie of nie?
Die sielkundige/psigiater sal na die hele prentjie kyk en dan diagnoseer. Indien moontlik, probeer ’n mens eers sonder medikasie behandel. Tog is dit dikwels nodig om medikasie te gebruik en dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie en kan jou kind werklik help.
Wat jy moet weet
Depressie is ’n kliniese toestand gekenmerk deur negatiewe verandering van gemoedservaring. Dit word dikwels nie raakgesien en nie behandel nie.
Dit is nie maklik om kinders te diagnoseer nie. Depressie gaan dikwels gepaard met ongelukkigheid en dan oor- of onderaktiwiteit, gedragsprobleme en psigosomatiese probleme.
Die langtermyngevolge van depressie is baie werklik en ’n kind wat nie behandel word nie sal langer depressief bly.
Onthou, die depressiewe kind of tiener kan hom/haar nie self “regruk” en sommer net so is die depressie nou weg nie. Depressie verg die regte behandeling, deur kundiges, met die nodige ondersteuning, empatie en begrip.
. Bron: Afrikaans.com