Die departement van arbeid se kantoor in die Paarl het groot opspraak ontlont nadat begunstigdes en werkloses dae lank moes toustaan om deur die departement gehelp te word.
Soos verlede week berig is, het mense by die departement maar teen ’n slakkepas in dié lang ry vorentoe gekruip terwyl ander se beddegoed die sypaadjie bedek het aangesien sommiges hul posisie in die lang rye wou behou.
Dit was die ervaring wat deur tientalle werkloses in die week net ná die Paasnaweek met Paarl Post gedeel is. Boonop het onsekerheid onder diegene geheers in die afwesigheid van insiggewende verduidelikings van die departement se personeel op kantoor.
Die adjunkdirekteur van die arbeidsentrum se bedrywighede in die Paarl, adv. Adele Bezuidenhout, het belangrike vrae oor die kwessie beantwoord:
1. Verduidelik die huidige stand van die departement van arbeid in Paarl se stelsels en die kapasiteit waartoe dit wel aanlyn en gereed is om die gemeenskap binne werksure te dien?
“Daar is tans uitdagings met beurtkrag, wat een van die hoofoorsake vir die UIF-stelselstilstand is. Die departement werk ook aan stelselverbeterings vir verbeterde dienslewering. Hierdie kwessies beperk wel van tyd tot tyd die beskikbare dienste.”
2.Is dit waar dat die stelsels wat met nuwe aansoekers handel meer dikwels foutief of nie aanlyn is nie as die stelsels wat met bestaande begunstigdes handel?
“Die departement van indiensneming en arbeid implementeer voortdurend UIF-stelselverbeterings, wat van tyd tot tyd tot stilstand van verskillende stelsels lei.”
3. Indien kritieke beurtkrag voortduur, kan mense op die departement staatmaak om van dié stelselvertragings op te los, of is dit ’n kwessie buite die departement se beheer waaraan mense bloot gewoond sal moet raak?
“Ja, die departement is besig om te verseker dat ons kantore rugsteunkragstelsels het.”
4. Watter ander uitdagings wat tot dié lang rye bydra, staar die departement in die gesig en waarvan gewone mense in die algemeen nie bewus is nie?
- “Kliënte is huiwerig om van die aanlyn UIF-prosesse gebruik te maak. Dit beïnvloed die departement se pogings om die kwessie van lang rye by arbeidskantore te probeer versag. Daar is tegniese bystand en gratis Wifi by die arbeidsentrum beskikbaar vir kliënte se gebruik.
- “Die hoë koers van werkloosheid, as gevolg van die huidige ekonomiese uitdagings, verhoog die aantal kliënte wat die arbeidsentrums besoek.
- “Die einde van die seisoenale tydperk in die Paarl en omliggende gebiede dra by tot die huidige vlak van invloei van kliënte by die kantoor. Die Paarl-kantoor betrek egter werkgewers om die grootmaataansoekproses te vergemaklik. Dit is ’n proses wat die behoefte uitskakel vir werknemers om die arbeidsentrum in lewende lywe te besoek.”
5. Vir diegene wat tans nog buite toustaan en dae aaneen wag vir die departement om aan hul navrae of aansoeke te voldoen, watter woorde van bemoediging/begrip wil die departement aan hulle uitspreek?
“Die departement doen ’n beroep op kliënte om, waar moontlik, asseblief van die aanlyn stelsels gebruik te maak. Die arbeidskantoor in Paarl lewer maandeliks dienste by besoekpunte, naamlik Villiersdorp, Franschhoek, Malmesbury, Riebeeck-Kasteel, Gouda, Saron en Porterville. Kliënte word aangemoedig om van hierdie dienste nader aan hulle gebruik te maak.”


