Die departement van water en sanitasie sê hoewel damme nie soos teen dieselfde tydperk verlede jaar oorloop nie, is hy tevrede met die vlakke by al 31 sy damme in die Wes-Kaap, met die Bergrivierdam buite Franschhoek se vlak wat die afgelope Maandag (4 Augustus) op 100,5% gestaan het.
Die departement het Dinsdag (5 Augustus) op ‘n mediakonferensie by die Bergrivierdam gesê reënval bly weens klimaatinvloede onvoorspelbaar.
Hy sê ook die Suid-Afrikaanse weerdiens voorspel ondergemiddelde reënval vir die res van vanjaar se winterseisoen.

Die Wes-Kaap het altesaam 44 damme, waarvan 31 deur die departement van water en sanitasie besit word.
Die provinsie se damvlakke het die afgelope Maandag op 79% gestaan.
Volgens Mkhevu Mnisi, die departement se direkteur van waterhulpbron-ondersteuning, was die algehele Bergrivier-opvangsgebied se vlak teen Woensdag 90,18%.
Die Breederivier-opvangsgebied het Woensdag op 76,68% gestaan, die Olifants/Doorn-gebied op 80% en die Gouritz-gebied op 70%.
Vier sluise is volgens Mnisi verlede Vrydag by die Clanwilliamdam oopgemaak om die vlak na minstens 75% te verlaag sodat bouwerk aan die damwal voortgesit kan word.
Volgens Mnisi het die Clanwilliamdam Woensdag op 78% gestaan.

Hy sê ondanks goeie reënval sedert die begin van die winterseisoen beskou die departement steeds water as ‘n skaars hulpbron wat ten alle koste bewaar moet word.
“Gegewe hierdie vooruitsig doen die departement ‘n beroep op alle waterverbruikers om voort te gaan met waterbewaringspogings, ondanks positiewe damvlakke, deur reënwater op te vang, verantwoordelik met water om te gaan en klein damme te monitor.
“Reënval bly onvoorspelbaar weens klimaatinvloede, soos El Niño en La Niña.
“Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel ondergemiddelde winterreënval, al is dit steeds moontlik dat damme vol kan word,” sê Mnisi.
Hy het verder benadruk dat die beskikbaarheid van grootmaatwater nie as waarborg dien dat plaaslike beperkings nie ingestel sal word nie.
“Sulke plaaslike beperkings kan verband hou met infrastruktuur- en ander uitdagings van munisipaliteite,” verduidelik hy.
Hy noem ook dat die departement besorg bly oor die voortslepende vandalisering van water- en sanitasie-infrastruktuur.
“Die departement het omvangryke veldtogte teen vandalisme van stapel gestuur om gemeenskappe op te voed oor die gevare en gevolge van vandalisme en diefstal van water- en sanitasie-infrastruktuur.
“Ons het egter beweeg na ‘n vlak waar ons nakoming en wetstoepassing as ‘n afskrikstrategie gebruik.
“Ons het ‘n nulverdraagsaamheid-beleid aanvaar teen ander onwettige aktiwiteite, insluitend onwettige wateronttrekkings en rivierafleidings.”



You must be logged in to post a comment.