Die ontploffing verlede Woensdagaand (3 April) by die transformator oorkant die R44 langs die Meem Alif Supermarket & Wholesaler. Foto: Verskaf


Groot dele van Klapmuts sit al weer in die donker nadat ’n tweede Eskom-transformator in een week ontplof het.

Die eerste ontploffing het verlede Woensdagaand (3 April) plaasgevind toe JVZ Construction, wat die tender by die Stellenbosch-munisipaliteit verkry het om ’n deel van die R44 naby die transformator te verbreed, aan die boks “gepeuter” het, het Chalman Horne-Kruger, ’n Klapmuts-gemeenskapsaktivis, gesê.

“[JVZ Construction]-kontrakteurs was naby die Eskom-transformator-boks, [en het in die grond] gegrawe met hul ontwikkelingswerk,” volgens Horne-Kruger.

JC Anthony, ’n DA-lid en ’n Klapmuts-raadslid, het die ontploffing bevestig en gesê dit is weens iemand wat met die kragkabels “gepeuter” het.

Foto ter illustrasie. Foto: Jana Scheepers

“Die ontploffing was baie erg, [en het] soos bye geklink in ons huise, met erge grondvibrasies. [My] buurvrou se dogter was langs die R44 besig om goed uit haar kar te haal en het plat langs haar kar neergeval totdat die blou vlamme [weens die transformator-ontploffing] verskyn het. Mense verder in die straat af het gegil,” vertel Horne-Kruger.

“Ons [Klapmuts-inwoners] het gevrees ons wonings gaan vlamvat. Daarom het ons jongmense met twee brandblussers oorgehardloop [na die transformator om die brand te blus],” sê Horne-Kruger.

“Sowat ’n uur voor die ontploffing het my seun gevra wat ruik soos warm drade wat brand, en ’n uur daarna het ontploffing gebeur.”

Die tweede voorval het groot dele van Klapmuts sonder elektrisiteit gelaat, insluitende die meeste huise in Merchent- en Bellstraat, wat reeds historiese onopgeloste kragprobleme ervaar en waaroor Paarl Post vroeër berig het, asook huise langs die treinstasie, die spoorweghuise en Backsberghuise aan die regterkant van die R44 in die rigting van Wellington.

Volgens Anthony en Horne-Kruger het dié jongste voorval die afgelope Saterdagaand (6 April) net ná 21:00 plaasgevind weens die stormwind wat ’n eeue oue eikeboom omgewaai en op die transformator laat val het.

Die Eikeboom wat op die Eskom transformator geval het. Foto: Verskaf

’n Kragdraad in die omgewing oorkant die transformator het ook in die slag gebly. Beide die kragdraad en die transformator was teen druktyd nog nie deur Eskom herstel om kragtoevoer te verseker nie.

Eskom kragdrade in Klapmuts regoor die transformator het ook in die slag gebly. Foto: Verskaf

Horne-Kruger vertel dat Eskom elke nou en dan in die gebied gesien word om die elektrisiteitstoevoer te herstel, maar daar is nooit ’n permamente oplossing nie. Daar word volgens haar ook nie met inwoners gekommunikeer oor waar die foute lê en hoe dit opgelos gaan word nie.

“Die krag sal soms vir 10 minute aangaan, en dan is dit weer vir dae af, voordat dit weer ’n rukkie aangaan.”

Hierdie patroon herhaal homself tot vervelens toe.

Die Paarl Post het by Eskom navraag gedoen, maar geen terugvoering is voor publikasie ontvang nie.

Volgens Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, is die munisipaliteit nie bewus van die huidige kragonderbrekings nie en maan hy inwoners om dit by Eskom aan te meld.

Die vraag oor wat die munisipaliteit doen om die inwoners van Klapmuts by te staan en te verseker dat Eskom die nodige herstelwerk doen, bly egter steeds onbeantwoord.

Die onus om te verseker dat basiese dienste, soos krag- en watertoevoer gelewer word, lê ook by die plaaslike regering.

You need to be Logged In to leave a comment.