Die ingang na die Dekkersvlei-plaas op die Keerwederpad. Foto: Jana Scheepers


Die onwettige besetters wat hulself op ’n gedeelte van die Dekkersvlei-gasteplaas op die Keerweder-pad tuisgemaak het, se dae is getel omdat die eienaar beoog om hulle volgende jaar te hervestig.

Volgens Piet Koekemoer, die eienaar van Dekkersvlei wat dié onwettige inwoners saam met die plaas oorgeërf het, moet hy R1,5 miljoen opdok om die inwoners te hervestig sodat infrastruktuur soos waterpype, elektrisiteit en toiletgeriewe opgerig kan word.

Hy het telefonies aan die Paarl Post verduidelik hy beoog om dié astronomiese bedrag teen die middel van 2025 bymekaar te hê.

Koekemoer is egter nie bitter oor die feit dat onwettige inwoners om en by twee hektaar van sy plaas beset nie.

Volgens hom het hy ’n goeie verhouding met die inwoners en het ook ’n ooreenkoms bereik dat die omgewing skoongehou moet word en dat niemand anders die grond mag beset nie.

“Ek het mense wat ’n ogie hou om te kyk dat niemand nuwe strukture opslaan nie.”

LEES OOK: Dekkersvlei-boer pleit met ‘n plan

Die besetters kry ook weekliks ’n gratis bord kos as deel van Koekemoer se nuut gevestigde voedingskema en maak gebruik van twee tenke vir lopende water en puttoilette.

Volgens ’n vorige berig van die Paarl Post het twee oud-plaaswerkers destyds ’n gedeelte van die grond beset, waarna hul familie en vriende later by hulle aangesluit en die “dorp” verder laat groei het.

Volgens Koekemoer hou die onwettige inwoners nie ’n gevaar vir hom of sy gaste in nie en het hy ook ’n heining om die plaas gespan om die inwoners te beperk tot waar hulle tans woon.

Hy het verduidelik dat hy met die Drakenstein-munisipaliteit kommunikeer om grond te verskaf waarheen die groep besetters hervestig moet word, waarna hy uit sy eie sak vir die infrastruktuur sal betaal.

Volgens hom gee die inwoners hul samewerking en is hulle gewillig om na ’n nuwe perseel te trek, mits dit die infrastruktuur bevat en verkieslik naby ’n skool is.

Volgens Paarl Post se vorige artikel, wat in Desember 2021 gepubliseer is, is Koekemoer se buur-boere ontevrede oor die onwettige besetters en hulle het hulle al van vrugte-diefstal beskuldig.

Louis Pienaar, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, sê die munisipaliteit het ’n gebruikte skeepshouer by die informele nedersetting geplaas sodat die inwoners op ’n veilige manier van hul vullis ontslae kan raak, waarna die munisipaliteit dit dan verwyder.

“Ons [die Drakenstein-munisipaliteit] sal die omstandighede rakende die Dekkersvlei-plaas verder ondersoek,” het Pienaar bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.