De Poort in Suider-Paarl het die groenlig vir ontwikkeling ontvang.Foto: Lise Beyers


Dit is nou amptelik – De Poort gaan ontwikkel word, en die terrein is reeds aan die ontwikkelaar oorgedra.

Verskeie besorgde inwoners het Paarl Post al ’n geruime tyd gelede reeds gekontak om hul besorgdheid uit te spreek omdat hierdie ontwikkeling glo sonder genoegsame openbare deelname goedgekeur is.

Die eerste tekens van die komende ontwikkeling is reeds verlede jaar waargeneem toe bykans al die dennebome op die terrein, waarvan party op meer as 100 jaar oud geskat word, afgekap is.

Die munisipaliteit het voorheen by navraag hieroor aan die Paarl Post gesê die suksesvolle aansoeker, The Kinesis Group (Edms.) Bpk., is deur die munisipale raad goedgekeur en hiermee laat die munisipaliteit amptelik toe dat ontwikkeling by die Paarl se witolifant, De Poort, kan plaasvind.

Jare van onsekerheid en gevegte tussen die munisipaliteit en vorige huurders blyk ’n einde te bereik het en De Poort word voorts aan ’n Stellenbosse ontwikkelingsmaatskappy verhuur vir ’n bedrag van slegs R31 587,50 per maand, BTW uitgesluit.

Die munisipaliteit het gesê die huur van De Poort is onderworpe aan sekere vereistes, wat die ontwikkeling van De Poort tot ’n geïntegreerde en multifunksionele ruimte behels en wat hoofsaaklik die toerismebedryf in die Paarl- en Drakenstein-gebied sal dien.

Dit sluit ’n residensiële komponent in, wat die organiese hernuwing van bestaande gebruike/bedrywighede/soorte sakeondernemings binne die breër gebied moontlik sal maak, wat hierdie visie na verwagting sal aanvul en aanmoedig. Die residensiële komponent kan ook woonstelle insluit.

Die perseel word aanvanklik teen R379 050 per jaar verhuur, waarna dit hersien sal word in ooreenstemming met die spesifikasies van die ontwikkeling.

De Poort is geleë op ’n uitstekende eiendom van byna 4 000 m² in Suider-Paarl. Sedert sy ontstaan destyds as historiese dorpie, ’n interaktiewe erfenisfasiliteit en ’n wa-museum, was alle pogings vrugteloos om De Poort werklik van die grond af te kry weens ’n gebrek aan geld en samewerking tussen die De Poort-direksie en die Drakenstein-munisipaliteit.

Seraj Johaar, die direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste by die munisipaliteit, het gesê die De Poort-eiendom is deur middel van ’n mededingende proses, wat volgens hom openbare deelname insluit, by wyse van ’n langtermynverhuringsooreenkoms aan ’n ontwikkelaar toegeken.

“Met die aanvang van die formele beplanningsregte-aansoeke ten opsigte van die beoogde ontwikkeling sal daar weer, soos wetlik voorgeskryf word, volledige openbare deelname volg.

“Die voorgestelde gemengde gebruik sluit residensiële, kommersiële en ontspanningsverwante gebruike in, maar is nie daartoe beperk nie. Die verskuiwing van die busse van die Shell-vulstasie na die oostelike kant van die De Poort-terrein sal juis die nodige verkeersverligting bied wat in die omliggende omgewing benodig word.”

Paarl Post kon egter geen kontakbesonderhede vind van die ontwikkelaar The Kinesis Group (Edms) Bpk. nie (dit is nie dieselfde as Kinesis Holdings, wat niks met die ontwikkeling te doen het nie), om meer besonderhede te verkry oor die planne vir De Poort.

You need to be Logged In to leave a comment.