Met meer as 30 jaar se ervaring as ’n rugbyspeler en daarna verskeie administratiewe rolle in veral die klubrugbygemeenskap, is Pat Marran, ’n boorling van De Doorns, dankbaar dat die Boland-rugbyunie (BRU) sy vertroue in hom geplaas het om die stoel van sy visepresident in te neem.
Marran is die afgelope naweek op ’n BRU-vergadering in Wellington as visepresident verkies.
Hoewel Marran op laerskool reeds rugby begin speel het, het hy sy amateur-rugbyloopbaan in 1993 by die immergewilde Villagers-rugbyklub in Worcester begin. Villagers het in die vroeë 2000’s só goed gevaar dat die span genooi is om aan ’n toernooi in Pretoria te gaan deelneem, en dis hier waar hy deur die Leeus se provinsiale span raakgesien is.
“Ek was daar vir een seisoen en het op die veld gedraf saam met bekendes soos Rassie Erasmus, Chester Williams en Johan Ackerman.
“Ek het egter ’n skouerbesering opgedoen en is die volgende jaar weer terug Villagers toe.
“Dit was in 2005 toe ek die tuig finaal neergelê het, en het toe ’n meer administratiewe rol in rugby vervul,” het hy vandeesweek vertel.
Marran glo in die potensiaal wat rugby in die Boland inhou.
“Die BRU is nou maar eenmaal die grootste unie ten opsigte van klubs en ondersteuners.
“Ons het 215 klubs waarvan 10 in vrouerugby spesialiseer. Boonop het ons meer as ’n miljoen ondersteuners wat weekliks tyd langs die rugbyveld deurbring. Dit gaan jy nêrens elders in die wêreld kry nie.”
Hy het gesê dit gaan sy mandaat wees om geleenthede vir plaaslike rugby te skep.
“Ek dink ons almal deel in ons president, Bennie van Rooi, se visie om in alles wat ons doen, geleenthede te skep. Daar is so baie potensiaal in ons klubs.
“Ek sal wil sien dat die ouens se rugbyloopbane nie daar by hul klubs eindig nie, maar dat hulle in streek-, provinsiale en nasionale spanne opgeneem word.
“Ons moet ook nie vergeet hoe baie potensiaal daar by ons skole is nie. Dit is juis hier waar ons die jong manne en vroue moet help om die leer te klim en hulle sodoende vir professionele rugby voorberei.”
Hy het benadruk dat groot beleggers soos Sanlam, Tekkie Town en die Rupert- en Motsepe-families, wat verlede jaar ooreenkomste met die unie aangegaan het, verdere deure vir spelers sal open.
“Hulle het juis die potensiaal in die unie raakgesien en is daardeur gemotiveer om betrokke te raak.
“Ons glo met hierdie ooreenkomste sal ons binne die volgende paar jaar deure vir spelers kan oopmaak om aan die boonste vlak van rugby deel te neem.”
Marran was een van vier name wat vir die pos benoem is.
Hy neem die leisels oor by die Wellingtonner Willie Small, wat in Junie vanjaar as visepresident bedank het nadat hy vir die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) verkies is.