Roses United se vlugvoetige Heinrich Isaacs omseil sy Darling-teenstanders.Foto: Lizette Smit

Credit: SYSTEM

’nLang seisoen vir Roses United het Saterdag (18 November) tot ’n einde gekom nadat hy in ’n Sanlam-Boland-Top-12-wedstryd 33-40 teen Darling in laasgenoemde se tuisdorp vasgeval het.

Roses het vroeg in die eerste helfte die voortou geneem nadat sy skrumskakel, Percivale Williams, afgerond het met ’n drie, verdoel deur sy losskakel, Damian Engledoe.

Die tuisspan het onmiddellik daarna teruggeslaan met ’n verdoelde drie om die telling op 7-7 gelyk te maak.

Die span van Wellington het teen ’n sterk wind in die eerste helfte gespeel, wat dinge vir hom bemoeilik het.

Oordeelsfoute, besluitneming en swak kommunikasie het Roses baie in die eerste helfte gekos nadat Darling twee onderskep-drieë gedruk het.

Die span van die Swartland-distrik het egter sy bonuspunt-drie aangeteken en teen rustyd was hy met 26-7 voor.

Roses het sy ondersteuners hoop gegee toe hy ’n verdere vier drieë in die tweede helfte aangeteken het om ’n voorsprong van 33-26 te geniet.

Darling het egter van rat verwissel en met twee verdoelde drieë geantwoord, wat hom ’n oorwinning en ’n plek in die Sanlam-Boland-Top-12-halfeinstryd hierdie Saterdag (25 November) op die Boland-stadion verseker het.

Vir die Roses-span het Percivale Williams en Denver Cloete ’n goeie wedstryd gespeel. Veral Cloete was vreesloos op die verdediging en aanval.. Puntemakers: Roses (33), Drieë: Percivale Williams, Jaydan van Wyk, Diago Julies, Anil Samuels, Heinrich Isaacs. Doelskop: Damian Engledoe (4). Ander Grootuitdaag­kompetisie-uitslae (Top-12):

Young Hamiltons 31-27 Delicious (Noordweste); Wesbank 30-29 Bella Vista; Robertson 77-36 Eagles; Darling 40-33 Roses United; Hawston 41-33 Saldanha; Safcol 27-24 Mamre.

Die halfeindwedstryde vind Saterdag (25 November) op die Boland-stadion in Wellington plaas, met Darling teen Safcol en Wesbank teen Robertson, wat sake om ’n plek in die eindstryd gaan uitspook.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article