Nege leerders van die Hoër Meisieskool Paarl (HMS) en een oudleerder van die skool was onlangs lede van ’n groep dansers van Made2Move-dansskool wat gekwalifiseer het om Suid-Afrika by die Dancestar World Dance Masters-kompetisie in Kroasië te verteenwoordig. Die kompetisie het van 17 tot 21 Mei in Porecc, Kroasië, plaasgevind. Meer as 5 000 dansers van 17 verskillende lande van oor die wêreld heen het aan ’n verskeidenheid danskategorieë deelgeneem wat gestrek het van hip-hop tot ballet. Die groep meisies van HMS het skitterend gevaar en sukses behaal met twee eerste plekke, wat hip-hop en liriese dans insluit. Hulle het ook onderskeidelik ’n tweede en derde plek behaal vir akrobatiese dans en jazz.