Dit reën nou meer as wat die son sy kop uitsteek en boere sowel as die gemeenskap is ’n bietjie vuisvoos vir die onophoudelike waters wat val.

Maar dis wel goeie nuus. Die damme loop vol en ons ondergrondse bronne word versadig. En die droogte van ’n paar jaar terug blyk nou finaal verby te wees, met wat die natste winter in dekades behoort te wees in die Boland.

Die water het wel nie gekom sonder sy skade nie. Paaie, landerye en wonings is erg verspoel.

Maar water is ’n ding waaroor ons nie mag kla nie. Al het die hemele nou opgemaak en ’n oorvloed daarvan gebring, sal die moontlikheid van ’n droogte ons weer paniekbevange laat rondskarrel.

’n Skaarste aan water het deur die eeue heen die boere laat vuisslaan oor waterregte. En sommige deskundiges beweer die vermindering van hierdie lewensbron wêreldwyd kan in ’n stadium tot ’n grootskaalse oorlog lei.

Ek ken van kindsbeen af droogte. Dit het vir my ’n baie gesonde respek vir water geleer.

Ek was altyd net ’n kuiergas, maar reeds as kind het ek my hart aan die Karoo verloor. Dit was deel van my vormingsjare, en ek was deel daarvan, en dis ’n liefde wat ek dekades later steeds koester.

Ek was 12 toe ek saam met Koos Vos op die Karoo-vlaktes tussen Carnarvon en Vanwyksvlei begin “boer’’ het. In dié tyd was die vooruitsig vir boere net so somber soos vandag. Die aarde was net so swart geskroei soos nou, en die veld het eweneens soos ’n doodskleed gelyk. Die droogte was tóé ook oënskynlik eindeloos. En met die intrap, kleintyd, het ek ’n gesonde respek vir water gekry.

Ek het dikwels saam met Koos Vos in die veld gery. Dit was nie meer vreemd om die dooie lammertjies onder bossies te sien lê nie. Of swak lammertjies wat met hul laaste krag aan hul ma’s suig, stertswaaiend van op­gewondenheid. Maar hulle suig te­vergeefs. Die spene is leeg. Uiteindelik strompel die tak-maer beentjies weg, wankel en val. Koos Vos raak al hoe moedeloser. Ek voel sy verdriet, en lees die verlange na reën in sy oë.

Ná skool reis ek vir ’n paar jaar in die buiteland. Met my terugkeer klim ek op die Trans-Karoo – nou het my siel die ooptes nodig.

Maar op Koos Vos se Humansdam is dit somber, want sedert my vorige besoek drie jaar tevore het die reën weggebly en die boerdery is op die rand van ’n afgrond.

Een middag kom ons van die veld af. Die wolke trek ligtelik saam. Ek hou hulle goed dop. Spierwit wolke. Maar Koos Vos is al só moedeloos oor beloftes van reën, hy lig nie eens sy oë na die hemele nie. Toe die grootmense later gaan skuins lê, dwaal ek op die werf rond. Die wolke raak al hoe donkerder. Skielik tref iets soos ’n klippie my voorkop. Ek staan vir ’n oomblik doodstil. Nóg ’n klippie. En toe begin dit drup. Die druppels wat teen my vel plons, is só groot, dit maak byna seer. Eers val dit net effe, maar meteens stort dit só erg, ek moet hardloop.

Dit reën kliphard. Dit reën die stilte van die droogte weg. Die wolke stamp kop. Dit donder. En agter die gordyne dans die blitse.

Nou is die huis wakker. Ons verwonder ons aan die reëngordyn wat voor ons val.

Ná ’n uur bedaar dit. Almal haas hulle buitentoe, veld toe. Waar die geskroeide aarde vroeër die dag gelê het, blink nou oral riviertjies. Ons ry diepveld in, tot heel aan die ander kant van die plaas teen die voetheuwels van die Dwaalberg. Hier kyk ons uit oor die delta water wat al op die vlaktes gevorm het.

’n Skaduwee trek oor ons. Dis ’n flambojansie van diep-pienk flaminke wat in een van die panne neerstryk, asof om finaal aan te kondig die droogte is gebreek.

Maar droogtes kom terug – keer op keer. Boere verloor hul grond, hul moed, hul lewenslus. Al wat bly, is hoop. Dat die flaminke weer sal kom.

You need to be Logged In to leave a comment.