Daar was groot opgewondenheid onder die leerders van die landelike skool Groenberg Primêr naby Wellington, toe die personeel onlangs die moontlikheid opper dat die hele skool op ’n daguitstappie na Kaapstad kan gaan.
Hulle sou na die Waterfront gaan, die Akwarium en die Kaapse Museum besoek. Daar is uitgewerk dat so ’n besoekie moontlik sou wees indien elke leerder R150 kan bydrae. Die geld het begin inrol, aanvanklik vinnig, toe al stadiger en stadiger want die kinders van Groenberg Primêr se ouers is feitlik deur die bank plaaswerkers en daar moet geknyp word om ’n los R150 in die hande te kry.
Twee dae voor die voorgenome besoek aan Kaapstad het nog net 64 van die skool se 160 leerders hulle betaling van R150 gemaak. Die skoolhoof, Gloria Samson, het besluit dat as dit dan nie anders kan nie, die 96 wat oënskynlik nie die R150 kan bybring nie maar moet tuisbly.
’n Lid van die gewilde Wellingtonse FB-blad, WOW Wellington, het op daardie tydstip gehoor van die lot van die 96 leerders wat nie vir die uitstappie na die Kaap kan betaal nie.
Sy deel die hartseer van die tuisblyers met die ander lede van die FB-blad en vra of daar nie dalk WOW Wellingtonners is wat iets kan bydrae nie. Sy plaas ook die skool se bankrekeningnommer op die blad. Die lede van WOW Wellington reageer onmiddellik. Binne ’n uur begin die boodskappe instroom: iemand borg een leerder, nog iemand drie, nog iemand vyf. Twee uur later is daar genoeg geld in die bankrekening om elkeen van die 96 tuisblyers te laat saamgaan na die Kaap!
“Ons was oorstelp van vreugde,” sê Gloria Sampson. “Toe die bus vol kinders die oggend na die Kaap vertrek, het die geld nog steeds ingestroom en ons kon selfs daaraan begin dink om elkeen van die leerders met ’n spesiale eetdingetjie in die loop van die dag trakteer!”
Die kinders het hulle vergaap aan die vreemde, blou onderwaterwêreld in die Akwarium, hulle het die Museum besoek, deur die Kaapse strate gestap en uiteindelik hulle moeë voete in die Waterfront laat rus terwyl hulle smul aan die lekker eetgoed wat die skool vir hulle kon koop.
Volgens die hoof was baie van die kinders nog nooit in die Kaap nie. Benewens die Akwarium en Museum het hulle die see gesien, die groot skepe wat die hawe binne vaar, die woelige stadslewe en selfs ’n groot groep betogende studente wat in die Kaapse strate gemarsjeer het.
“Dit was heerlik om die verwondering op die kinders se gesigte te sien en vir ons as onderwysers was dit veral lekker om opmerkings te hoor soos: “Kyk daardie groot berg! Dis dieselfde berg waarvan daar ’n prentjie in my skoolboek is!” sê Gloria Samson.
“Die uitwerking wat hierdie uitstappie op die kinders gehad het, is verstommend. Ek weet ek praat namens elke onderwyser, elke ouer, elke lid van ons beheerliggaam as ek sê dat hierdie spontane reaksie van die mense van Wellington ons en die leerders van Groenberg tot splinternuwe hoogtes geïnspireer het.
“Dis ’n spontane liefdesgebaar wat ’n mens nuwe moed vir die toekoms van ons almal in hierdie land gee!”