Ek wil graag baie dankie sê aan kolonel Conradie, sersant Solomons en konstabel Pietersen van die Paarl-polisie wat Vrydag (21 Februarie) tot my redding gekom het.
Ek was onderweg om my dogtertjie by die skool te gaan haal toe ek met my motor net voor die Markstraatbrug in die Paarl ’n baksteen wat in die pad gelê het, getref het. Met die bome wat plek-plek skadu gooi in die pad het ek die baksteen te laat gesien en was my poging om uit te swaai, tevergeefs. My een motorband was so erg beskadig dat ek nie verder met die motor kon ry nie.
Kolonel Conradie het verbygery en toe hy my sien, dadelik omgedraai om te kom hoor wat fout is. My motor se bande is verskriklik swaar en dit is nie ’n maklike taak om dit te vervang nie.
Met my man wat uit Stellenbosch ry om my te kom help, het kolonel Conradie dit goedgedink om by my te wag en om ook sommer te luister of daar ’n polisieman beskikbaar is om te help om die band om te ruil. Hy het geduldig saam met my gewag tot iemand beskikbaar was, of tot my man kom.
Vir konstabel Pietersen wil ek sê baie, dankie dat jy die band omgeruil het sonder om een keer iets te noem oor die gietende hitte of oor sy hande wat toe vol olie was.
Gelukkig het die mamma wet wipes in haar motor en kon sy darem sorg dat almal weer met skoon hande daar wegry.
Ek weet almal sê dat ’n vrou ’n band moet kan omruil – ek stem saam. Ek weet hoe, maar dit is regtig nie ’n maklike band om te ruil nie. Ek glo as dit dalk nie sulke verskriklike groot en swaar bande was nie, sou ek dit self kon doen.
Weer eens – baie dankie aan die vrou en manne in blou! Ek waardeer julle hulp opreg!