Dis reeds ’n maand nadat die oorstromings verwoesting gesaai het, en selfs nadat daar verslag gelewer is oor die mediatoer by die Bergrivierdam, is daar steeds Paarliete wat nie tevrede is met die terugvoer wat amptenare oor die damme se oopmaak van sluise lewer nie.
Een so ’n inwoner is Johan Buys wat ’n fabriek langs Bergrivier in die Paarl bedryf.
Hy glo iewers word die pot mis gesit en dat verantwoordelikheid vir al die skade wat berokken is eenvoudig deur die relevante party geneem moet word.
Soos voorheen berig, ontken Drakenstein-munisipaliteit nalatigheid van enige aard, terwyl die Wes-Kaapse departement van water en sanitasie sê hy monitor alle dam- en watervlakke glo weekliks om te verseker die water moet koers kry waar (en wanneer) dit hoort.
Oor die belangrike vraag of sluise betyds voor die vloed oopgemaak is, het Pieter Barry van die departement se infrastruktuurtak by die Bergrivier-mediatoer egter verduidelik daar was geen sluise in die Bergrivierdam oop nie.
“[Die oorstromings] was net normale stortings. [Bergrivierdam] is ’n onbeheerde oorloop; soos die water inkom, gaan dit oor,” het hy bygevoeg. “Voor die oorstromings was hierdie dam ongeveer 80% vol, miskien minder.
“Daar was baie water wat ingekom het wat nie oorgespoel het nie. As dié dam nie hier was nie, sou water wat die dam van 80% tot 100% gevul het, in die Bergrivier afgegaan het. Maar dit is teruggehou.”
Hy het erken dat hy nie oor hierdie aangeleentheid by die Wemmershoekdam kommentaar kan lewer nie.
Buys is op sy beurt egter oortuig “iemand moet meer eerlik antwoord as daai spin van die [Bergrivier-] dam het nie sluise nie. Bergrivierdam het wel nie sluise nie maar hy kan wel tot 250 kubieke meter per sekonde uitlaat, en hy het.
“[…] Ek let veral op dié sidestep dat “there was not any sluice opened … it is an uncontrolled spillway”.
“Dit skep die indruk dat niemand water doelbewus kan uitlaat nie. Bergrivierdam laat nie net water uit wat oorloop oor die wal nie, daai is ’n spin-storie.”
Buys voeg by dat daar nou en dan artikels oor Bergrivierdam was wat noem dat water vir die boere of ander damme in nood vrygelaat word.
“Hoe doen hulle al daai as hulle nie kan beheer hoeveel water uitvloei nie? Ons moet ten minste verwag dat Stad Kaapstad (wat die damme bestuur) moet weet hoeveel meter watter vrylating veroorsaak by die choke points in die rivier.
“As hulle nie weet nie, behoort hulle uit te vind.”
Hy noem ook dat hy sukkel om inligting oor Wemmershoekdam te kry, maar hy vermoed wel dat hulle ’n sluis-stelsel van ’n onbekende maksimum vrylatingskapasiteit het.
Volgens Louis Pienaar, waarnemende uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by Drakenstein-munisipaliteit, was hulle van mening dat groot dele van die oorstromings hoofsaaklik veroorsaak is deur damsluise wat op Vlak 4 oopgemaak is; “pleks daarvan dat water vroeër en op laer vlakke (1 of 2) uit die damme vrygelaat is en nie deur ’n stormwaterstelsel-probleem veroorsaak is nie.
“Ons senior bestuur is besig om die saak met die bestuur van die Departement van Water en Sanitasie op te neem,” het Pienaar in die nasleep van die ramp gesê.
Paarl Post het die terugvoer waarna die munisipaliteit verwys, versoek, sowel as spesifieke navrae oor die sluisebestuur van Wemmershoekdam aan Stad Kaapstad gerig.
In reaksie het Drakenstein se Philip Pansegrouw, ook ’n waarnemende direkteur van ingenieursdienste by die munisipaliteit, gesê die munisipaliteit het met Stad Kaapstad sowel as die departement van water en sanitasie (DWS) vergader rakende die onderskeidelike beheer van die Wemmershoek- en Bergrivierdamme.
“Volgens dié owerhede was die beheer van albei damme tydens die swaar reënval in ooreenstemming met die standaard operasionele reëls, soos voorgelê tydens die bou van die damme,” vertel Pansegrouw.
Volgens hom tree die genoemde reëls in werking sodra die twee damme volvlak (100%) bereik.
“Die intense en hoë reënval van 14 tot 17 Junie het meegebring dat die volume water op ongeveer 790 kubieke meter water per sekonde (m³ /s) oor die stuwal te Langstraat, Paarl, gemeet is. Die watervolume soos gemeet tydens normale droë weer is beduidend laer – slegs ongeveer 30 kubieke meter water per sekonde (m³/s).”
Ten slotte noem Pansegrouw dat Drakenstein-munisipaliteit oorweeg om albei owerhede te versoek om hul standaard prosedures aan te pas om in die toekoms vloedskade sover moontlik te verminder.
Navrae aan die Stad Kaapstad aangaande Wemmershoekdam is nie teen druktyd beantwoord nie.