Die Dameskring bied Saterdag 29 Oktober om 09:00 ’n spesiale geldinsamelingsgeleentheid ten bate van Projek Flamingo in die kerksaal van die NG-gemeente Wellington-Noord aan.

Hanlie Retief (van Rapport) sal met dr. Liana Roodt gesels oor Roodt se Projek Flamingo. Roodt, die stigter en direkteur van Projek Flamingo, se passie vir borschirurgie het gelei tot die ontstaan van hierdie organisasie sonder winsoogmerk, wat die lang en spanningsvolle wagtyd vir behandeling van borskankerpasiënte in die openbaregesondheidsektor, aandurf.

Meer as 1 000 operasies vir borskankerpasiënte kon danksy Projek Flamingo reeds in staatshospitale uitgevoer word.

Om hierdie projek suksesvol te maak, word bykomende teatertyd op vakansiedae en oor naweke by die Groote Schuur- en die Tygerberg-hospitale gefinansier, waar chirurge, narkotiseurs en assistente sonder vergoeding werk. Geld wat deur die projek ingesamel word, word gebruik om toerusting asook verpleegpersoneel te betaal en ook om spesiale bederfpakkies aan borskankerpasiënte te skenk.

Projek Flamingo het reeds na ander dele van die land uitgebrei, waaronder die Livingstone-hospitaal in Gqeberha en die Cecilia Makiwane-hospitaal in Oos-Londen.

’n Ligte noenmaal sal by die geleentheid op 29 Oktober bedien word. . Skakel 072 936 7654 vir nog inligting en navrae oor kaartjies.

You need to be Logged In to leave a comment.