Die Drakenstein-munisipaliteit sê hy hoop om die eerste fase van die skep van ‘n moderne parkeerterrein by sy Dal Josafat-stadion ter waarde van R7 miljoen teen 30 Junie vanjaar te voltooi.
Volgens die munisipaliteit moes hy in die parkeergebied belê om aan Sasrea-vereistes te voldoen.
Die Sasrea-wet het ten doel om die veiligheid van mense wat groot sportbyeenkomste bywoon, sowel as hul eiendom, te beskerm.
“Die omvang van die projek sluit in die gelykmaak van die grondoppervlakte, teerwerk, installering van bome, kragtoevoer en ligte (wat in toekomstige jare aangebring sal word),” het David Delaney, waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, by navraag gesê.
“Veiligheid tydens sport- en ontspanninggeleenthede, soos voorgeskryf deur die Sasrea-wet van 2010, verplig die stadion om oor ‘n aangewese parkeergebied te beskik.
“Die wet skryf ‘n aangewese gebied vir parkering tydens geleenthede voor,” het hy verduidelik.
Volgens Delaney sal stadiongebruikers en die breër Drakenstein-gemeenskap in die toekoms in ‘n beheerde en veilige parkeergebied kan parkeer.

“Die parkeergebied kan ook gebruik word om ander gemeenskapsgeleenthede te akkommodeer.”
Toekomstige opknappings sluit in die tweede fase van die parkeergebied (aan die oostekant), die opknapping van hoëmasligte, en die opknapping van die tartan-atletiekbaan, het hy bygevoeg.
Paarl Post het in Januarie berig oor die stadion se akkreditasie, wat deur Wêreldatletiek uitgereik word, wat aan die einde van 2024 verstryk het.
Michael Fraser, uitvoerende hoof van Boland Atletiek, het in daardie stadium gesê die munisipaliteit, wat die stadion besit, sal om verlenging van die akkreditasie aansoek moet doen.
Dit sou die stadion ‘n bykomende twee jaar gun, het Fraser gesê.
Akkreditasie wat deur Wêreldatletiek uitgereik word, is vir agt jaar geldig.
‘n Geakkrediteerde diensverskaffer sou volgens die munisipaliteit in Februarie ‘n inspeksie by die stadion en tartanbaan doen en ‘n verslag saamstel van alle defekte wat herstel moet word ten einde vir die heruitreiking van die akkreditasie vir die volgende agt jaar te kwalifiseer.
Benewens die akkreditasie-kwessie, gaan die stadion gereeld onder vandalisme gebuk.
In een van die onlangse voorvalle in Maart is kragkabels gesteel by die vertrek waar atlete se punte digitaal vasgevang word. ‘n Deel van die stadion was gevolglik sonder krag.
In die lig van hierdie voorvalle moes die munisipaliteit noodgedwonge permanente veiligheidswagte aanstel.
Daar heers egter gemengde menings oor die doeltreffendheid van hierdie wagte, aangesien vandalisme en diefstal selfs met hul sigbaarheid voortduur.
You must be logged in to post a comment.