Die 100ste uitgawe van Uit die Beek, die oudste dagstukkieboek in Afrikaans, is onlangs in Wellington bekendgestel. Die geleentheid in die Jubileumsaal van die Andrew Murray-sentrum vir Spiritualiteit was soos ’n reünie vir diegene wat oor die jare by die publikasie betrokke was.
Uit die Beek bly ’n betroubare en geliefde Bybelleesgids,” sê ds. Barend Vos, wat sedert 2018 die skryf daarvan met die nodige erns behartig. “Dit was uit die staanspoor die uitgesproke doelwit van die onderskeie skrywers om lesers die hele Bybel te laat lees, en nie slegs uitgesoekte en geliefde hoofstukke, gedeeltes en verse nie. Vanjaar is geen uitsondering nie. Trouens, spesiaal vir hierdie feesuitgawe vertoef ons by elke Bybelboek – soms langer, soms korter.”
Dit het in 1924 die eerste keer verskyn – aanvanklik in Nederlands as Overdenkingen – maar het in 1927 na aanleiding van Ps. 110:7 ’n naamsverandering na Uit de Beek ondergaan. Die eerste Afrikaanse uitgawe het in 1929 as Uit die Beek verskyn.
Die 2025-uitgawe is ds. Vos se laaste. Hy het gedurende die bekendstellingsbyeenkoms met die teoloog dr. Stephan Joubert van die Universiteit van Pretoria en Ekerk gesels oor die uitdagings en interessanthede agter die skryfproses. Dr. Joubert gaan voortaan die samestelling behartig. Hy is bekend met die konsep, aangesien hy voorheen vir 2004 tot 2007 se uitgawes gesorg het.
Hy het daarna die taak oorgegee aan die Wellingtonner ds. Attie van Wijk, wat tussen 2008 en 2017 daarmee gemoeid was. Sodoende het dié eertydse prinsipaal van die Nehemia-instituut en die Hugenote-Bybelinstituut en hoof van bediening van Bybel-Media die derde generasie van Attie van Wijks geword wat by Uit die Beek betrokke was.
“ ’n Mens praat daardeur elke dag met duisende mense. Dis ’n groot voorreg wat ander dominees nie noodwendig het nie,” het hy by die bekendstelling gesê.
Ds. Van Wijk het ook uitgewy oor die sterk familieverbintenisse. Sy oupa, ds. Attie van Wijk senior, het die idee vir so ’n stiltetydboek gehad en was langer as 40 jaar by die skryf daarvan betrokke. Nie eens toenemende simptome van Parkinson se siekte kon hom van dié lewenstaak weghou nie. Hy het etlike uitgawes met ’n stok tussen die hande op ’n tikmasjien getik. Toe dié tegniek ook nie meer werk nie, het hy tekste op band opgeneem, wat dan tydsaam deur sy seun – die huidige ds. Attie se pa, ds. Hannes van Wijk – getik en versorg is. Danksy dié spanpoging het die uitgewers weldra gevoel dat ds. Hannes net die regte man was om formeel die vaandel by sy pa oor te neem. In die proses was hy tussen 1951 en 1971 betrokke by Uit die Beek.
Ds. Hannes is op sy beurt opgevolg deur sy broer en mededominee, ook ’n Attie van Wijk. Dié eertydse assessor van die NG kerk se Federale Raad het die taak tot 1978 voortgesit. Skrywers soos prof. Jac Müller, prof. A.H. van Zyl en dr. Annes Nel het ook oor die jare diens gedoen.