Die TC Newman-daghospitaal in Charleston Hill, Paarl-Oos, is die afgelope naweek deur diewe en vandale geteiken.
Sandra Maritz, die kommunikasiebeampte van die Kaapse Wynland se departement van gesondheid, sê: “Ons wil ons uiterste teleurstelling en afkeur uitspreek oor ’n inbraak die afgelope naweek by TC Newman CDC.”
Sy voeg by: “Rekenaars is gesteel en die infrastruktuur is beskadig, maar ons is dankbaar dat die impak hiervan op dienslewering minimaal is. Ons veroordeel hierdie dade ten sterkste.”
Volgens Maritz bly die veiligheid van pasiënte en personeel vir die departement ’n prioriteit en kyk hulle opnuut na maniere waarop die huidige veiligheidsmaatreëls versterk kan word.
Sy doen ook ’n beroep op inwoners om die polisie te kontak oor enige misdade wat tot die afbreek van klinieke ly. Sy meen as inwoners betroubare inligting met die polisie deel, kan dit tot die ondersoeke bydra.
“Ons vra dat die gemeenskap ons help om hul gesondheidsdienste te beskerm deur die polisie te kontak as hulle vermoed dat misdaad by hul kliniek gepleeg word.”
Kapt. Anthony Sauls, woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, het die voorval bevestig. Enigiemand met inligting kan die plaaslike polisie by 021 877 5900 kontak of die Stopmisdaad-nommer skakel by 08600 10111.


