Twee artikels in die jongste Paarl Post, “Feeslose Paarl” en “Finansiële druk versmoor ons”, is so nou verwant dat kommentaar van ’n belastingbetaler seker geregverdig is.
Die Nederlandse sanger Stef Bos praat van ’n koeksister-verbinding, en ek kan nie aan ’n beter beskrywing dink om die verbintenis tussen die belastingbetaler en ’n munisipaliteit te beskryf nie.
Ongelukkig word diegene wat al die bestanddele voorsien om hierdie lekkerny te maak, nie gedurende die bakproses in die kombuis toegelaat nie, om nie eens te praat van ’n happie van dié hartskos nie .
As ons kyk na die twee artikels, is die een ’n kreet vir finansiële verligting en die ander bespiegel oor wat verkeerd geloop het met ons toerismebedryf, terwyl hierin eintlik ook die antwoord opgesluit lê (al is dit dalk net gedeeltelik), naamlik die verbreding van die belastingbasis deur die uitbouing van ons toerismebedryf (werkskepping is onder meer ’n primêre mandaat van alle munisipaliteite). Ongelukkig word die rolspelers in die toerismesektor/gastebedryf/wynbou nie in die kombuis toegelaat nie. Ons munisipaliteit het etlike jare gelede in sy wysheid eensydig besluit om in die middel van ’n boekjaar sy finansiering vir die Drakenstein Local Tourism Association (DLTA) summier te staak. Die redes vir hierdie onbesonne besluit is nog nooit op so ’n manier verduidelik dat die breër gemeenskap sin daaruit kon maak nie.
Kyk ons na die reuse-suksesse wat die Wes-Kaap, WESGRO en die Stad Kaapstad behaal, om van Stellenbosch en Franschhoek nie te praat nie, wonder ’n mens onwillekeurig waar die knoop lê. Is dit onkundige politici of is dit dalk weerbarstige amptenare wat eie agendas dryf? Gordon Hill-Lewis, die burgemeester van Kaapstad, het verlede week opnuut bevestig dat toerisme een van hul hoof- ekonomiese drywers is. Maar ek weet ook dat ’n sinvolle belegging gemaak moet word alvorens ’n dividend op die belegging verwag kan word.
Terselfdertyd is ek ook die eerste om dank en erkenning te gee aan eerlike en hardwerkende politici, asook toegewyde amptenare, waarvan daar vele is, maar as ons eerlik met mekaar is, moet ons erken dat dinge in die Drakenstein se huidige toerismepogings tans hoegenaamd nie vorm kry nie.
Hoekom is dit so moeilik om te erken dat die kombuispersoneel uitgebrei moet word, met kenners wat die toerismebedryf goed verstaan, wins najaag en nie slegs pamflette uitdeel nie? Hierdie is ’n handevat-proses en kan nie ’n ons-en-hulle-benadering wees nie.
Net ’n laaste opmerking – WESGRO word deur die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering gefinansier. Kaapstad eis natuurlik sy pond vleis, maar die provinsiale gedeelte moet onder meer aangewend word om die “B-munisipaliteite” buite die metro met die bemarking van hul omgewing te ondersteun. Nou moet die vraag seker gevra word: Wanneer laas het die verantwoordelike politici of amptenare met WESGRO en Kaapstad onderhandel om ’n regmatige deel van die koeksister te bekom?
Indien daar wel sulke skakeling oor die afgelope vyf jaar was, sal Drakenstein se belastingbetalers graag daarvan wil hoor.