Wanneer die matrieks hul eindeksa­men begin skryf, beteken dit die jaar is byna op sy rug. Menige ouers van matrieks slaak enersyds ’n sug van verligting dat al die matriekbedry­wig­hede (sport, interskole, matriekafskeid, bestuurderslisensie kry, ens.) oplaas verby is. Andersyds hou hulle duim vas dat 12 jaar gelede se Sus en Daan nou die laaste stukkie van die wedloop goed sal voltooi.

As ouer het ek al vier keer dié paadjie bewandel. Ek weet Pa en Ma raak bekommerd as die jongeling omtrent net sy of haar bas wil lig, terwyl die kinders dikwels sê “maar ek hét mos opgelet in die klas”.

Elke ouer wil die beste hê vir hul kinders terwyl die jongelinge graag soos grootmense behandel wil word.

Matriek is waarskynlik die belangrikste eksamen wat ’n mens in jou lewe sal skryf. Dit is die één eksamen waarin dit uiters belangrik is hoe goed jy slaag. Elke tersiêre eksamen daarná moet jy net slaag. Maar elke tersiêre instelling wil weet hóé goed jy matriek geslaag het. Selfs toe ek ná twee diplomas vir ’n graad wou gaan studeer, was dit my matrieksertifikaat wat die universiteit vir toelating vereis het.

As ’n ouer, oud-onderwyser en -lektor en tans loopbaankonsultant, wil ek graag elke matrikulant wat met die matriekeksamen besig is, aanmoedig om jou heel beste poging aan te wend, aangesien dit jou nog vir baie jare sal baat.

Vir diegene wat vanjaar in gr. 11 is, is dit belangrik om te onthou dat hierdie November-eksamen se punte die punte is wat tersiêre instellings volgende jaar gaan gebruik om te besluit of hulle jou in 2024 gaan toelaat om daar te studeer.

Ek het genoeg eksamens in my lewe geskryf om te weet van al die versoekings in eksamentyd. Wanneer jy hierdie tyd van die jaar moet sit en leer, is dit die lieflikste dae en trek jou hart met ’n punt buitentoe om te gaan swem, oefen of wat ook al. Of die interessantste goed verskyn skielik op sosiale media of die TV, wat jy net nie kan nalaat om te kyk of op te reageer nie.

Daarom is dit wys om in hierdie tyd vir jouself grense te stel wat die versoekings kan verminder. Stel ’n studierooster op met afgebakende studietye en kort rusperiodes tussenin. Gaan los jou selfoon by jou ma of in ’n ander vertrek vir die tye wat jy studeer. En onthou – die eksamen duur net ’n paar weke. Vir ’n eksamen wat vir baie jare jou lewe kan beïnvloed, is dit vir seker die moeite werd om vir hierdie paar weke met absolute toewyding te studeer.

Ek het by geleentheid die voorreg gehad om ’n praatjie van ’n briljante man, wat voor sy dertigste verjaardag al ’n doktorsgraad in toegepaste wiskunde gehad het, by te woon. Hy is ook baie lief vir sport en het beklemtoon dat ’n mens die regte goed moet oefen vir dit waaraan jy wil deelneem. Vir fietsrykompetisies moet jy fietsry oefen en as jy aan padwedlope deelneem moet jy hardloop.

Volgens hom is dit dieselfde vir studies. Om ’n suksesvolle student te wees, was sy raad dat jy nie net jou verstand moet oefen nie, maar ook jou sitvlak. Hy het vertel hoe hy telkens die dag voor die universiteit begin het die hele dag op die stoel voor sy lessenaar gesit het om solank voor te berei vir die groot sit wat voorlê. Die ABC van studie is inderdaad “Apply Bottom to Chair.”

En dan, ná die groot eksamen – die groot wag vir uitslae en die regmaak vir die nuwe fase in jou lewe. Miskien gaan jy verder studeer, miskien gaan jy werk, miskien neem jy ’n “gap”-jaar, of dit kan dalk gebeur dat jy nie matriek slaag nie.

Wat ook al jou situasie – daar is net een pad, en dit is vorentoe. Paulus het gesê: “Ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.” (Fil. 3:13)

Ja, matriek is vir seker nie die wenpaal nie, maar slegs die einde van jou skoolloopbaan. Vir party was skool lekker en vir ander nie, maar as dit verby is, lê ’n nuwe hoofstuk voor. Gryp dit met albei hande aan. As jy moet gaan werk soek, maak dit jou werk om werk te soek, of studeer jy verder, maak die beste gebruik van die geleentheid.

As jy dalk ongelukkig is en nie die eksamen slaag nie, is dit nie die einde van die wêreld nie. Ek ken heelwat mense wat nie dié groot eksamen geslaag het nie, die jaar herhaal het en uiteindelik met groot sukses verder gaan studeer het. Onthou, jou eie keuses is die grootste bepalende faktor van jou toekoms.

You need to be Logged In to leave a comment.